|
Steve vir president!- Rapport
GAVIN PRINS
Steve vir president!
As dit is hoe jy voel oor die hartebreker en sanger Steve Hofmeyr, is jy nie alleen nie.
Die Egoli-aktrise Shaleen Surtie-Richards meen ook so.
Die tydskrif Sarie het vir sy jongste uitgawe bekendes in die vermaakbedryf en sy lesers vrae aan Steve laat vra.
Shaleen wou weet: “Steve, hoe lyk dit? Wil jy nie maar president word nie?”
Steve se antwoord op dié vraag aan Sarie was: “Hie-hie, moenie dat Max jou hoor nie! Sal jy my sosiale raadgewer wees?”
En: “Noudat jy praat, dis ’n briljante idee om daai klomp ‘kalatz inni Kaap’ bietjie wakker te laat skrik. Wat sê djy?”
Daarop antwoord Shaleen die afgelope week teenoor Rapport sy “hou van die klong”.
“Steve is nie bang om sy bek oop te maak nie. Ek is baie lief vir hom en ek het die grootste respek vir hom,” sê Shaleen, wat Nenna in Egoli speel.
“Steve is soos ’n Kaapse wyn – hy word net beter en beter.”
Shaleen sê sy sal self afreken met enigiemand wat met die sanger sukkel. “Ek sit met my lyf op ’n ou as hy vir Steve moeilikheid gee.”
Steve het die laaste tyd baie aandag getrek toe hy aan optogte teen misdaad en naamsveranderings deelgeneem het en by twee geleenthede gesellig met die voormalige adjunkpresident Jacob Zuma gekuier het.
Hy is deesdae weer terug voor die kameras om die rol van ’n joernalis te speel in die SABC2-sepie 7de laan.
 
|