|
Sol-Tech studente spring weg met praktiese opleiding
Sol-Tech studente sal eersdaags die geleentheid kry om hul nuwe vaardighede in die werkplek te laat geld. Meer as 200 studente word vanaf die tweede week in Mei, na afloop van hul teoretiese opleiding, na verskeie kontrakteurs regdeur Suid-Afrika geplaas om die praktiese gedeelte van hul opleiding te ondergaan.
Die toeretiese opleiding is by die Sol-Tech kampus in Centurion aangebied.
Voornemende elektrisiëns, loodgieters, passers en draaiers, sweisers, motorwerktuigkundiges en ketelmakers maak deel van dié praktiese opleiding uit.
Studente is onder meer by kontrakteurs in Northam, Kimberley, Stilbaai, Parys en die Verre-Noordwes geplaas.
Gedurende dié tydperk sal elke student besoek en evalueer word. As ʼn student bevoeg verklaar word, sal die volgende fase van teoretiese opleiding by Sol-Tech aangepak kan word.
Volgens Theuns Steenkamp, uitvoerende direkteur van Sol-Tech, is plasing vir praktiese opleiding uitdagend vir dié opleidingskollege. “Ons infrastruktuur is klein en ons is reeds besig om aan die volgende inname te beplan,” sê Theuns.
“Dit bly ’n voorreg om deel van ’n groep jongmense se lewens te wees.” Hy glo ook dat Sol-Tech se studente nie net blote nommers is nie. “Elke individu se welstand en vordering is vir ons belangrik.”
Kontrakteurs wat bereid is om studente vir praktiese opleiding te aanvaar kan Sol-Tech by (012) 611-1300 skakel.
 
|