Nuus


Prokureurs in sop by vakbond- Beeld
Alet Rademeyer

Die vakbond Solidariteit het ’n vierpuntplan van optrede teen ’n prokureursfirma aan die Oos-Rand wat glo weier dat werknemers met mekaar of met kliënte in enige ander taal as Engels kommunikeer, aangekondig.

Mnr. Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê die vakbond gaan Du Plessis Prokureurs van Kempton Park by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) aankla en ook die prokureursorde vra om in te gryp.

Solidariteit gaan die prokureursfirma se beweerde optrede wyd in sy netwerk publiseer en bied ook sy dienste gratis aan vir werknemers wat arbeidsregtelike optrede teen die firma beplan.

Volgens Hermann oortree die firma die grondwetlike bepalings van veeltaligheid en ondermyn hy daardeur die gees van demokrasie.

“Dit is verswarend vir ’n prokureursfirma, wat veronderstel is om die regstaat in stand te hou, indien hy basiese beginsels van die Grondwet ondermyn.”

Beeld het berig oor gegriefde werknemers wat dit onder sy aandag gebring het dat die firma se kantoortaal amptelik Engels is en dat hulle verbied word om met mekaar of kliënte in Afrikaans te kommunikeer.

Hulle mag ook geen private oproepe maak of ontvang op hul selfone of landlyne by die kantoor nie.

Hulle mag ook nie SMS’e tydens kantoorure stuur of ontvang nie.

Hermann het gesê werknemers het ’n reg om hulself in hul moedertaal uit te druk.

Hulle het ook die reg om in privaatheid met mekaar in hul moedertaal te kommunikeer.

Volgens hom het die gemeenskap ook ’n plig om die Grondwet in stand te hou.

“Indien die gemeenskap voel ’n onderneming ondermyn die gees van die Grondwet en die demokrasie, moet hy só ’n onderneming onder sensuur plaas.

“Ons sal inligting oor die firma se optrede so wyd as moontlik versprei sodat mense kan besluit of hulle in slegs Engels met dié firma wil besigheid doen. Mense moet met hulle voete stem of hulle die optrede van die firma goedkeur.”

Me. Mirinda du Plessis van die firma het gister by navraag volgehou dat sy nie op die klagtes kommentaar wil lewer nie.  

 Stuur na 'n vriend Drukker vriendelike weergawe (Besigtig: 351 | Verwys: 0 | Gedruk: 142)

Volgende:
Arbeidstoneel kan ontvlam- Sake Beeld
Steve vir president!- Rapport
Eerste troos-teddies afgelewer- Beeld
Twee uit Oprah-skool oor Afrikaans- Rapport
Sol-Tech studente spring weg met praktiese opleiding

Vorige:
Beertjies vir kinderslagoffers van geweld
`Regering wou hande op pensioengeld kry`- Sake Beeld
‘Stel polisie-kindereenheid weer in’- Beeld
Skoksyfers oor misdaad teen kinders in Solidariteit-verslag
Verpleeg-krisis- Rapport


© 2005 - 2008. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login