|
Anglo Platinum maak geld soos bossies
29-07-2010
Anglo Platinum se wesensverdienste het met 532% in die halfjaar tot einde Junie gestyg. Dié stewige groei, wat verwagtinge oortref het, is te danke aan die noemenswaardige verbetering in die wêreldmark vir platinummetale vanjaar. Die motorbedryf is ook besig om van die resessie te herstel en aangesien die meeste platinum vir motorvervaardiging gebruik word, behoort Anglo Platinum daarby te baat. Anglo Platinum se beter winsposisie is nie net te danke aan die goeie platinumprys nie maar ook aan beter produktiwiteit per werknemer. Dié groep het verlede jaar sy arbeidsmag van 60 000 na 19 000 werknemers verminder.
Mynmaatskappye steek vanjaar meer geld in die sak as gevolg van die stabilisering van die ekonomie asook die groot aantal afleggings wat verlede jaar plaasgevind het. Werkskepping is egter Suid-Afrika se grootste enkele struikelblok en Anglo Platinum kan die land ʼn guns bewys deur goeie winsverdienstes in werkskepping te omskep.
Nuwe ysterertsmyn
Kumba Iron Ore se greep op die metaalmark gaan binnekort ingeperk word deur ʼn nuwe ysterertsmyn. Motjoli Resources is van plan om R11 miljoen te spandeer aan ʼn nuwe ysterertsmyn naby Piet Retief, genaamd Cascades. Dié myn sal nagenoeg 20 miljoen ton ystererts in 2012 produseer. Die myn se produksielewe word op 60 jaar gereken en Kumba Iron Ore sal duim vashou sy nuwe mededinger eerder hulle fokus op internasionale kliënte soos China sal hou.
 
|