|
Een uit drie Suid-Afrikaners wat graag wil werk, kry nie werk nie
29-07-2010
Die arbeidsektor toon nog geen beduidende tekens van herstel ná die resessie nie, het Solidariteit vandeesweek gesê. Die arbeidsmagpeiling vir die tweede kwartaal van 2010 wat vroeër die week deur Statistiek Suid-Afrika bekendgestel is, toon dat indiensname die afgelope kwartaal met 61 000 poste afgeneem het terwyl die totale aantal poste wat in die eerste helfte van 2010 verlore gegaan het, reeds op 232 000 gereken word.
“Die breë werkloosheidskoers van 32,8% beteken dat een uit drie Suid-Afrikaners wat graag wil werk, nie werk kry nie,” sê Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans. “Daarbenewens is die daling in indiensname in veral die formele vervaardiging- en konstruksiesektore uiters kommerwekkend, aangesien dié sektore van kritieke belang is vir Suid-Afrika se ekonomiese herstel,” voeg Kleynhans by. Die breë definisie van werkloosheid sluit beide werkloses en ontmoedigde werksoekers in.
Indiensname in die formele sektor het in die eerste helfte van 2010 met 269 000 poste afgeneem. Hiervan het 129 000 poste in die tweede kwartaal van 2010 verlore gegaan. Die klein styging van 37 000 poste in die informele sektor, landbousektor en private huishoudings het hierdie daling slegs marginaal teengewerk.
“Meer as 60% van die poste wat in die eerste helfte van die jaar in die formele sektor verlore gegaan het, was in die vervaardigings- en konstruksiebedrywe,” verduidelik Kleynhans. “Die werksverliese in die konstruksiebedryf is grootliks as gevolg van groot infrastruktuurprojekte wat nou voltooi word, asook laer aktiwiteit in residensiële bouwerk,” voeg hy by. Indiensname in die formele vervaardiging- en konstruksiesektore het in die tweede kwartaal van 2010 met onderskeidelik 74 000 en 54 000 afgeneem.
“Indiensname het tydens die resessie ʼn skerp daling getoon tot die derde kwartaal van 2009. Sedertdien daal indiensname steeds, maar teen ʼn stadiger tempo en hoewel daar ʼn klein styging in die vierde kwartaal was, is dit reeds weer uitgewis in 2010,” verduidelik Kleynhans.
 
|