Mediaverklarings


Opleidingsinskrywings styg, maar opleidingsvlakke laat veel te wense oor - 22 Julie 2010
Skoolstelsel laat kinders in die steek

Opleidingsinskrywings styg, maar opleidingsvlakke laat veel te wense oor, toon Solidariteit-studie Skoolstelsel laat kinders in die steek

Slegs 7,6% van die bykans 1,44 miljoen leerlinge wat in 1998 hulle skoolloopbaan begin het, het in 2009 vir tersiêre opleiding gekwalifiseer. ʼn Studie wat vandag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) bekendgestel is, toon verder dat die matriekslaagsyfer tussen 1994 en 2007 van 58% na 65% gestyg het, maar dat die aantal leerlinge met universiteitstoelating van 18% tot 15% gedaal het.

“Drie uit elke vier leerlinge wat Suid-Afrika se skoolstelsel verlaat, het onvoldoende vaardighede om die arbeidsmark suksesvol te betree. Ware bemagtiging sal eers plaasvind wanneer behoorlike vaardighede oorgedra word en leerlinge bemagtig word om die arbeidsmark te betree,” sê Johan Kruger, hoof van die SNI.

Die studie vorm deel van die SNI se Suid-Afrikaanse Transformasiemonitor (SAT-monitor) en fokus op transformasie in die opleidingsektor met spesifieke verwysing na opleidingsinskrywings en -vlakke tussen 1994 en 2009.

Volgens Kruger het toegang tot onderwys sedert 1994 toegeneem, maar die gehalte van onderwys laat veel te wense oor. Skoolinskrywings het tussen 1994 en 2008 van ongeveer 9 miljoen tot bykans 12,6 miljoen toegeneem terwyl universiteitsinskrywings met 33% toegeneem het. Die grootste toename van universiteitsinskrywings was onder Afrikane* (48%), teenoor ʼn afname van 15% onder wittes.

Toegang tot en kwaliteit van skoolvlak-onderwys Tussen 1995 en 2006 het die persentasie Suid-Afrikaners van 20 jaar en ouer wat minstens gr. 7 voltooi het in alle rassegroepe toegeneem. Die studie toon dat 70% van Afrikane, 79,7% van kleurlinge, 92% van Indiërs en 99,2% van wittes in dié tyd skoolopleiding van gr. 7 of hoër voltooi het.

Wiskunde- en wetenskapgeletterdheid is egter ʼn groot probleem. Volgens die studie het slegs ʼn klein hoeveelheid matrikulante tussen 2006 en 2009 wiskunde en wetenskap geskryf. In 2009 het minder as die helfte (45,97%) van dié groep wiskunde geslaag, terwyl die slaagsyfer vir wetenskap van 67,39% in 2006 na slegs 36,83% in 2009 gedaal het.

Volgens Kruger begin dié probleem reeds in die preprimêre fase. “Gr. 3- en gr. 6-leerlinge toon reeds taal- en wiskundegeletterdheidsprobleme. ʼn Groot bydraende faktor vir dié probleem is ongekwalifiseerde onderwysers wat dikwels self nie eers aan die vereistes wat aan leerlinge gestel word, kan voldoen nie. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het in 2005 reeds bevind dat 33 640 Suid-Afrikaanse onderwysers nie oor die nodige onderwyskwalifikasies beskik nie,” sê Kruger.

Tersiêre onderwys Slegs 20% van matrikulante wat in 2009 gr. 12 geslaag het, het vir tersiêre opleiding gekwalifiseer. Meer as die helfte (51,8%) van die sowat 138 000 eerstejaarstudente wat in 2002 aan universiteite begin studeer het, het nie hulle eerste jaar voltooi nie. Slegs sowat ʼn derde van dié studente (33,38%) het binne vyf jaar afgestudeer en 20 600 van hulle is steeds besig met verdere studies.

Die studie toon dat 77 981 grade in 2007 by Suid-Afrikaanse universiteite toegeken is – meer as 44% daarvan is aan Afrikane toegeken, terwyl 40,43% aan wittes, 6,34% aan kleurlinge en 8,75% aan Indiërs toegeken is.  

 Stuur na 'n vriend Drukker vriendelike weergawe (Besigtig: 63 | Verwys: 1 | Gedruk: 17)

Volgende:
Herinstelling van spesialiseenhede nodig om geweldsmisdadigers vas te trek
3 Augustus 2010
Solidariteit beklink gunstige ooreenkoms by Exxaro Coal
Geen tekens van herstel in die arbeidsektor
Loononderhandelinge by Assmang baan weg vir die toekoms - 26 Julie 2010

Vorige:
Tussentydse ooreenkoms tussen Kumba en ArcelorMittal ʼn oorwinning vir die werknemers – 22 Julie
Wen-wen-ooreenkoms broodnodig tussen Kumba en ArcelorMittal
Taai loononderhandelinge duur voort – Solidariteit
Traagheid oor gradering kan onderhandelinge in die wiele ry, maan Solidariteit
Telkom se tyd loop uit om vergoedingsprobleem op te los, maan Solidariteit


© 2005 - 2008. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login