|
Traagheid oor gradering kan onderhandelinge in die wiele ry, maan Solidariteit
Solidariteit, 15 Julie 2010
Die vakbond Solidariteit en die National Union of Mineworkers (NUM) het vandag die steenkoolmaatskappy Exxaro se loonaanbod verwerp. Totdat Exxaro nie dringend sy loonaanbod hersien en die graderingskwessie wat nou al drie jaar lank hier sloer by die aanbod insluit nie, is ʼn ooreenkoms buite die kwessie, het Solidariteit gewaarsku.
Dit volg nadat die maatskappy in die tweede ronde van loononderhandelinge ʼn loonaanbod van ʼn 7%-verhoging sowel as ʼn aanbod rakende die standaardisering van drie kwessies gemaak het. Loononderhandelinge word vandag hier voortgesit.
“Die maatskappy is tans net bereid om die pendel-, behuising- en skof- en bystandstoelaes te standaardiseer. Daar moet egter ook dringend na die standaardisering van werknemers se gradering gekyk word, maar dit vorm nie nou deel van die maatskappy se aanbod nie,” sê Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
Hoewel die maatskappy nou aan werknemers die versekering gegee het dat die standaardisering van hulle gradering wel binne die volgende jaar opgelos sal word, raak werknemers nou toenemend gefrustreerd aangesien die proses reeds sowat drie jaar lank sloer.
“Die salarisse van werknemers op dieselfde posvlak by Exxaro Coal Mpumalanga (ECM) en Exxaro Coal (EC) verskil drasties van mekaar omdat twee verskillende graderingstelsels, naamlik die Patterson-stelsel en die JE Manager-stelsel, by dié aanlegte gebruik word en veral werknemers by die Grootegeluk-aanleg ly hieronder,” verduidelik Kleynhans.
Solidariteit verteenwoordig nagenoeg 1 500 lede by ECM en EC.
 
|