|
Telkom se tyd loop uit om vergoedingsprobleem op te los, maan Solidariteit
Solidariteit, 8 Junie 2010
Arbeidsverhoudinge bereik krisispunt
Telkom se tyd om op eie stoom ʼn oplossing vir die brandende probleem van salarisongelykhede onder werknemers van die maatskappy se grootste eenheid te vind, loop nou vinnig uit, het die vakbond Solidariteit vandag gewaarsku.
Solidariteit het die telekommunikasiemaatskappy se uitvoerende bestuur tot en met eerskomende Vrydag gegee om in te stem tot ʼn dringende vergadering met die vakbond waartydens probleme rakende die vergoeding van werknemers in die maatskappy se Data Advance Services-eenheid (DAS) bespreek kan word.
Solidariteit hou intussen vol dat die algemene stand van arbeidsverhoudinge in die maatskappy ook nou ʼn kommerwekkende punt bereik het en ook dringend bespreek moet word.
“As die maatskappy nie teen eerskomende Vrydag met ʼn datum vir die vergadering vorendag kom nie, word ons met geen ander opsie gelaat as om ʼn geskil na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verwys nie. Die kwessie sloer nou eenvoudig hopeloos te lank en intussen word werknemers wat inderwaarheid geregtig is op ʼn beter vergoeding steeds sonder ʼn uitvoerbare oplossing gelos,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
“Solidariteit is baie bekommerd oor die huidige stand van sake in Telkom en voel dat alle moontlike interne prosedures nou uitgeput is in ʼn poging om die probleem op te los,” sê Kleynhans. Die vakbond hou vol dat ʼn onafhanklike, eksterne voorsitter aangestel moet word om die gesprekke tussen vakbonde en die maatskappy te lei.
Ongelykhede bestaan tans onderling tussen werknemers in die MCNO-kantoor sowel as tussen werknemers van dié kantoor en werknemers in die DAS-eenheid.
Hoewel al dié werknemers op die OP1-vlak in Telkom is en daar voortdurend van ʼn groot meerderheid van werknemers in die DAS-eenheid vereis word om ook gespesialiseerde werk vir die kliënte van MCNO te doen, ontvang sekere MCNO-werknemers ʼn veel beter salaris en voordele. Die MCNO (voorheen bekend as die Merlot-projek) is ʼn aantal jare gelede saamgestel en hanteer die instandhouding van die gesentraliseerde netwerk aan van Suid-Afrika se grootste maatskappye. Daarbenewens is die DAS-eenheid onder meer verantwoordelik vir die instandhouding van maatskappye se skakelborde sowel as die instandhouding van dataversendingslyne.
 
|