Mediaverklarings


Shiva Uranium begin met afleggingsproses kort ná oorname van Uranium One
Solidariteit, 2 Julie 2010

Nuwe werkgewer het beloof dat geen afleggings sou volg, maan Solidariteit

Hoewel die uraniumprodusent Shiva Uranium, wat Uranium One se Dominium Reefs-myn onlangs oorgeneem het, aan die Mededingingskommissie beloof het dat geen afleggings weens die oorname sou volg nie, is dit juis wat nou gebeur, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.

Shiva het die myn amptelik in April vanjaar by Uranium oorgeneem nadat die transaksie deur die Mededingingskommissie goedgekeur is.

Intussen het die maatskappy nou in ʼn Artikel 189-kennisgewing aangekondig dat 111 van die huidige 197 werknemers moontlik deur ʼn beplande afleggingsproses geraak sal word. Dié werknemers vorm deel van die sorg- en instandhoudingspan wat steeds hier werk sedert Uranium One se mynbou-aktiwiteite gestaak is.

Die maatskappy voer aan dat hy slegs sy eie bestuurspersoneel en kernondersteunende personeel sal aanhou en dat ʼn kontrakteur, JIC Mining Services, voortaan die mynbou-aktiwiteite sal behartig.

Volgens Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans is die beloftes wat Shiva se beheermaatskappy, Islandsite Investments 254, en Uranium One aan die Mededingingskommissie gemaak het nou vergete. “In die dokumentasie wat aan die Mededingingskommissie voorgelê is, word dit duidelik gestel dat die transaksie nie ʼn nadelige uitwerking op werkverskaffing by die myn sal hê nie en dat geen afleggings voorsien word nie. Daarbenewens word beklemtoon dat die transaksie juis ʼn positiewe invloed sal hê, aangesien die aantal werknemers noemenswaardig sal verhoog sodra die myn weer tot volle produksievlak gebring word,” verduidelik Kleynhans.

“Solidariteit sal nie die saak daar laat nie. Meer as 56% van die myn se werksmag staar aflegging in die gesig nadat streng voorwaardes met die oorname van die myn gestel is om juis dit te verhoed. Die vakbond sal die Mededingingskommissie en die departement van mynwese oor die nuutste stand van sake hier in kennis stel,” sê Kleynhans.

 

 Stuur na 'n vriend Drukker vriendelike weergawe (Besigtig: 73 | Verwys: 0 | Gedruk: 30)

Volgende:
Wen-wen-ooreenkoms broodnodig tussen Kumba en ArcelorMittal
Taai loononderhandelinge duur voort – Solidariteit
Traagheid oor gradering kan onderhandelinge in die wiele ry, maan Solidariteit
Telkom se tyd loop uit om vergoedingsprobleem op te los, maan Solidariteit
Eskom topbestuur kry verhoging van 83%, Solidariteit vra vir noodonderhandelings

Vorige:
Solidariteit aanvaar nie Eskom-aanbod, maar stel wysigings voor
Solidariteit maak aankondiging oor Eskom-lone
Nóg ʼn afleggingskok vir Simmers se Buffelsfontein-myn – Solidariteit
Solidariteit sluit nóg mededingende loonooreenkomste
Produksiesektore tel kop op, toon werkskeppingsyfers – Solidariteit


© 2005 - 2008. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login