|
Solidariteit sluit nóg mededingende loonooreenkomste
Solidariteit, 24 Junie 2010
Terwyl loononderhandelinge steeds by talle maatskappye en bedingingsrade voortgesit word, het Solidariteit in die afgelope maand reeds verskeie uiters mededingende loonooreenkomste gesluit.
Loonooreenkomste is intussen by onder meer Colgate, die nywerheidschemikalieë-sektor van die chemiese bedingingsraad, die Suid-Afrikaanse Atoomenergiekorporasie (Necsa) en die Mine Pension Fund
(MPF) bereik. Loonverhogings by dié vier maatskappye of bedingingsrade is op tussen 7% en 9% gesluit. “Dié loonverhogings is in uiteenlopende bedrywe bereik. Nietemin kon Solidariteit reeds deur die bank daarin slaag om verhogings van tot 4 persentasiepunte bo die huidige vlak van inflasie vir lede te beding,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
Kleynhans beklemtoon egter dat werknemers in die huidige omstandighede realistiese verwagtinge van loonverhogings moet hê. Daarbenewens moet werknemers altyd die risiko verbonde aan ʼn staking in berekening bring om sodoende te bepaal of ʼn staking die uiteindelike verhoging werd sal wees.
“Solidariteit adviseer altyd lede in hul beste belang, aangesien daar besliste finansiële implikasies aan ʼn staking gekoppel is, wat telkens weens onrealistiese verwagtinge aangemoedig word. Om te verhoed dat werknemers uiteindelik geld vanweë ʼn onnodige staking verloor, moet die stryd eerder om die onderhandelingstafel gevoer word en dit is juis die strategie wat Solidariteit volg,” sê Kleynhans. Solidariteit doen onder meer navorsing oor elke maatskappy se finansiële situasie om sodoende te bepaal watter loonverhoging lewensvatbaar sal wees.
Volgens die Andrew Levy-salarisopname sal loonverhogings regoor die arbeidspektrum vanjaar na verwagting gemiddeld tussen 7,5% en 8,5% wees. Dié opname toon dat loonverhogings in die eerste kwartaal van die jaar op ʼn gemiddeld van 8,4% gesluit is. In dié stadium van onderhandelinge is inflasie op tussen 6,3% en 5,7% gereken.
Hieronder volg ʼn uiteensetting van sommige van die loononderhandelinge waarby Solidariteit tans betrokke is:
• Eskom
Loononderhandelinge by die maatskappy duur steeds voort. ʼn Geskil is vroeër hier verklaar en intussen word die proses deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) voortgesit. Teen laat Maandagaand het die maatskappy ʼn loonaanbod gemaak vir ʼn verhoging van 8%. Daarbenewens bied die maatskappy ʼn verhoging van 5,6% op sekere toelaes aan sowel as die uitbetaling van R12 000 aan alle werknemers in twee gelyke paaiemente.
Vakbonde het die aanbod verwerp. Gesprekke is Woensdag by die KVBA voortgesit. Intussen sal Eskom na verwagting vandag ʼn nuwe aanbod aan vakbonde maak.
• Denel
Solidariteit het vroeër ʼn loongeskil met Denel sowel as sewe van die maatskappy se entiteite (PMP, Denel Dynamics, Denel Aviation, Denel Saab Aerostructures, OTB, Denel Properties en Denel Integrated Systems Solutions) verklaar. Solidariteit het intussen ʼn regsmening oor die situasie ingewin.
Die geskil is op grond van Artikel 24 van die Wet op Arbeidsverhoudinge verklaar en sal ingevolge die beginsels van goedertrou-onderhandelinge, soos vervat in die onderskeie erkenningsooreenkomste, hanteer word. Die geskil sal eers vir konsiliasie geneem word, waarna dit moontlik vir arbitrasie verwys kan word. As die geskil nie besleg kan word nie, staar al sewe entiteite ʼn staking in die gesig. Die geskil volg nadat karige loonverhogings eensydig geïmplementeer is.
• Necsa
Loononderhandelinge by die Suid-Afrikaanse Atoomenergiekorporasie (Necsa) is verlede week uiteindelik gefinaliseer nadat die maatskappy op ʼn aanbod van 4% vasgesteek het. ʼn Loonooreenkoms vir ʼn verhoging van 7%, vir implementering op 1 Julie, is intussen onderteken.
• Medi-Clinic
Die tweede ronde van loononderhandelinge het reeds plaasgevind. Solidariteit hanteer onderhandelinge namens lede van die groep se Hart-hospitaal in Pretoria en die Emfuleni-hospitaal in Vanderbijlpark. Ná afloop van die tweede ronde bied die maatskappy nou reeds ʼn gemiddelde verhoging van meer as 8% aan verpleeg- en administratiewe personeel van die twee hospitale.
Gesprekke sal na verwagting later vandeesweek voortgesit word.
• Exxaro
Onderhandelinge het in Mei hier afgeskop en ná een ronde bied die maatskappy nou ʼn verhoging van 6% aan. Daar is intussen besluit om die standaardisering van werknemers van die twee aanlegte (by Exxaro Coal Mpumalanga en Exxaro Coal in Ellisras) se voordele na ʼn taakspan te verwys. Kwessies soos die standaardisering van onder meer werknemers se behuisings- en vervoertoelae moet hier bespreek word. Onderhandelinge hieroor sal op 29 Junie hervat terwyl loononderhandelinge op 30 Junie voortgesit sal word. Die uitkoms van gesprekke op 29 Junie sal ʼn wesenlike invloed op loononderhandelinge hê, meen Solidariteit.
• Vaalharts Water
Solidariteit het reeds aan die begin van Junie ʼn loongeskil by die land se grootste waterskema verklaar en die geskil na die KVBA verwys. Die geskil sal op 29 Junie hier voortgesit word. Die maatskappy bied tans ʼn verhoging van 6% en dreig om afleggings deur te voer sou vakbonde aanhou aandring op ʼn hoër verhoging. Solidariteit eis tans ʼn verhoging van 11,5%.
• MPF (Mine Pension Fund)
Loonverhogings by MPF word gekoppel aan werknemers se prestasie. Ingevolge die loonaanbod wat van die bestuur ontvang is, sal werknemers wat op die hoogste prestasievlak gegradeer word ʼn maksimumverhoging van 9% kan ontvang.
Die aanbod is na die lede geneem en aanvaar.
• Nuwebande-vervaardigingsbedryf (New Tyre Manufacturing Industry)
Loononderhandelinge by die grootste vervaardigers van bande in Suid-Afrika, waaronder Continental, Dunlop, Bridgestone en Goodyear, word by die bedingingsraad vir die Nuwebande-vervaardigingsbedryf hanteer. Die werkgewers het in die tweede ronde van onderhandelinge ʼn 4,87%-loonaanbod gemaak, wat deur Solidariteit van die hand gewys is. Onderhandelinge gaan steeds voort en die volgende ronde vind op 8 en 9 Julie 2010 plaas.
• ArcelorMittal
Solidariteit het ná vyf rondes van loononderhandelinge verlede week ʼn geskil by die Bedingingsraad van die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) verklaar.
ArcelorMittal se laaste loonaanbod was 6%. Solidariteit verteenwoordig sowat
2 500 lede by ArcelorMittal. Die proses sal op 5 Julie by die MEIBC voortgesit word.
• Silicon Smelters
Silicon Smelters, die grootste vervaardiger van silikon in Suid-Afrika, het ná drie rondes van loononderhandelinge ʼn loonverhoging van 4,8% aangebied.
Solidariteit het die aanbod van die hand gewys. Die volgende ronde van loononderhandelinge gaan op 28 Julie 2010 plaasvind.
• Colgate
Nadat ʼn geskil in Mei hier by die Nasionale Bedingingsraad vir die Chemiese Bedryf (NBCCI) verklaar is, het Colgate ʼn loonaanbod van 8% gemaak wat deur Solidariteit aanvaar is. Alhoewel Solidariteit die aanbod verwelkom het, het die vakbond Colgate se benadering tot onderhandelinge baie negatief ervaar.
Ander diensoordele word tans deur subkomitees onderhandel. Die loonaanbod is geldig vir een jaar en is terugwerkend vanaf 1 April 2010 geïmplementeer.
• Rand Carbide
Die derde ronde van loononderhandelinge het vandeesweek by Rand Carbide plaasgevind. Die maatskappy bied ná afloop van hierdie ronde aan dat die 7,1%-verhoging wat verlede jaar geïmplementeer is, verleng en weer vanjaar geïmplementeer word.
• Chemiese bedingingsraad
Ø Nywerheidschemikalieë: Werkgewers het ʼn loonverhoging van 7,5% vir implementering in Julie vanjaar aangebied, sowel as ʼn bykomende 0,5%-verhoging op grond van werknemers se Junie 2010-salarisse vir implementering in Januarie 2011. Die aanbod is intussen aanvaar.
Ø Glas: Loononderhandelinge is midde-in die tweejaarloonooreenkoms heropen en die werkgewer bied ʼn loonverhoging van 6,25%. Daar is intussen nog nie ʼn volgende ronde vir onderhandelinge geskeduleer nie.
• LNR
Die Landbounavorsingsraad (LNR) bied tans ʼn loonverhoging van 4,8%. Intussen weier die organisasie om inligting rakende sy bestuur se salarisse bekend te maak. Onderhandelinge word eerskomende Vrydag, 25 Junie voortgesit.
• Murray & Robberts
Loononderhandelinge by Murray & Robberts, een van Suid-Afrika se voorste ingenieurs-, konstruksie- en kontrakteursdienstemaatskappye skop binnekort af en is geskeduleer vir 1, 2, en 8 Julie 2010.
• MMC
Solidariteit het verlede week ʼn geskil by die Bedingingsraad van die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) verklaar nadat loononderhandelinge met MMC, die grootste vervaardiger van suiwer elektrolitiese mangaanmetaal in die wêreld, vasgeval het. Die maatskappy het ʼn loonverhoging van slegs 6% aangebied.
• Nasionale Bedingingsraad van die Hout- en Papiersektor (NBHP)
Ø Papier- en pulpsektor
Loononderhandelinge in die papier- en pulpsektor vorder stadig. ʼn Vergadering tussen werknemers van die sektor word vandeesweek gehou waarin die moontlikheid ondersoek word om die onderhandelinge uit te stel.
Werkgewers voer aan dat daar nie tans fondse vir loonverhogings beskikbaar is nie. Die papiervervaardigers Sappi en Mondi word in hierdie sektor van die NBHP verteenwoordig.
Ø Vesel- en partikelsektor
Loononderhandelinge in die vesel- en partikelsektor word vandeesweek hervat.
PG Bison, Masonite en Sonae Novobord is betrokke by loononderhandelinge in dié sektor.
Ø Saagmeulesektor
Werkgewers in die saagmeulesektor het ʼn finale loonaanbod van 7% aan vakbonde voorgelê. Daarbenewens bied die werkgewers aan dat die minimumloon tot R1 650 per maand verhoog word. Die aanbod is egter net tot 30 Junie geldig, waarna dit sal verval. As werknemers besluit om nie dié aanbod te aanvaar nie sal ʼn geskil verklaar word. Alle ander kwessies is intussen na
taakspanne verwys.
• Cape Lime
Loononderhandelinge by Cape Lime se Vredendal- en Langvlei-aanlegte is vroeër vandeesmaand gefinaliseer. Ingevolge die eenjaarloonooreenkoms wat hier bereik is, sal werknemers op posvlakke 7 en 8 ʼn loonverhoging van 8% terugwerkend vanaf 1 Maart vanjaar ontvang.
• Sasol Mynbou
Solidariteit het vandeesweek ʼn eenjaarloonooreenkoms by Sasol Mynbou (vir die Brandspruit-, Middelbult-, Bossjesspruit-, Twistdraai- en Syferfontein-myne asook alle Sigma-myne en oppervlak-bedrywighede) gesluit.
Ingevolge die loonooreenkoms sal werknemers ʼn loonverhoging van 7,5% vanaf Julie 2010 ontvang, plus ʼn bykomende 0,5%-verhoging vanaf Januarie 2011 op grond van werknemers se basiese salarisse soos in Desember 2010.
 
|