|
Produksiesektore tel kop op, toon werkskeppingsyfers – Solidariteit
Solidariteit, 22 Junie 2010
Die styging in die aantal werksgeleenthede in die formele mynbou- en vervaardigingsektore is positiewe nuus en bevestig dat die groei wat reeds in dié sektore aangeteken is uiteindelik tot werknemers begin deursyfer het, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.
Dit is na aanleiding van die jongste indiensnamesyfers wat vandag deur Statistiek Suid-Afrika bekendgestel is en wat toon dat die myn- en vervaardigingsbedrywe elkeen in die eerste kwartaal van 2010 sowat 3 000
meer werksgeleenthede as in die vorige kwartaal aangeteken het.
“Dié toename in werksgeleenthede spruit uit die positiewe groei wat die afgelope maande in dié twee sektore aangeteken is. Die mynbedryf het reeds in die afgelope twee kwartale positiewe groei getoon, terwyl die vervaardigingsbedryf reeds drie kwartale van positiewe groei aangeteken het.
Die verbetering in groei het uiteindelik ook na werknemers begin deursyfer en bring hoop vir werksekuriteit,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
Hoewel die toename in werksgeleenthede in die twee sektore positief is, maan Solidariteit dat die verlies aan werksgeleenthede wat weens die resessie aangeteken is nog nie naastenby herstel het nie. “Teen die derde kwartaal van 2008 het die mynbedryf ʼn hoogtepunt van nagenoeg 532 000 werksgeleenthede bereik. Dit was hoofsaaklik te danke aan die kommoditeitsprysborrel wat in dié stadium aangeteken is. Intussen het die aantal werksgeleenthede in dié bedryf in die eerste kwartaal van 2010 tot
491 000 gedaal en is steeds 1,8% laer as dieselfde tyd verlede jaar.
Daarbenewens het die vervaardigingsbedryf tans nagenoeg 9,5% minder werksgeleenthede as wat in die eerste kwartaal van 2008 die geval was. Dit is dus duidelik dat albei dié bedrywe nog baie herstel benodig, maar die eerste tekens is reeds daar,” meen Kleynhans.
Solidariteit beklemtoon dat die verbetering in die mynbou- en vervaardigingbedrywe, wat hoofsaaklik die produksiesy van die Suid-Afrikaanse ekonomie vorm, noodsaaklik is aangesien die basis van ekonomiese groei in produksie lê.
Intussen het veral die konstruksie- en die finansiële bedryf skerp afnames in werksgeleenthede getoon. Die afname in die konstruksiebedryf kan grotendeels toegeskryf word aan die voltooiing van talle projekte wat hoofsaaklik vir die Sokkerwêreldbeker bestem was. “Daar is egter tot ʼn sekere mate hoop vir die sektor aangesien die minister van vervoer, Sbu Ndebele, onlangs aangekondig het dat nagenoeg R700 miljard in die volgende drie jaar bestee sal word aan die ontwikkeling van paaie, brûe en damme,” sê Kleynhans. Solidariteit benadruk dat nog projekte soos dié noodsaaklik sal wees om werksgeleenthede en groei in die sektor te bewaar.
Die toename in werksgeleenthede wat in die vervaardigingsbedryf aangeteken is, is hoofsaaklik by vervaardigers van onder meer voedsel, chemiese produkte, voertuie en voertuigonderdele aangeteken.
 
|