Mediaverklarings


Grootste verlies aan kernkundiges nóg, maan Solidariteit nadat bitter einde vir PBMR aanbreek
Solidariteit, 21 Junie 2010

Terwyl ʼn bitter einde vir Pebble Bed Modular Reactor (PBMR) vandeesweek finaal aanbreek, het Solidariteit gewaarsku dat dit die grootste verlies nóg aan kernkundigheid vir Suid-Afrika tot gevolg sal hê. Die vakbond beklemtoon dat die uitvloei van kundigheid uit die land onherroeplike skade sal veroorsaak en dat dit jare sal neem om die vaardigheidsgaping wat geskep gaan word weer te vul.

Solidariteit se reaksie volg op die finalisering van die vrywillige skeidingsooreenkoms by PBMR vandag. Na verwagting sal die meerderheid van werknemers by PBMR vrywillige skeidingspakkette neem.

ʼn Artikel 189-kennisgewing vir die aflegging van nagenoeg 800 van die werknemers hier is in Februarie aan Solidariteit oorhandig. Intussen het nagenoeg vyf maande van uitgebreide konsultasies tussen vakbonde, die werkgewer en die regering oor moontlike alternatiewe tot die beëindiging van dié multimiljoenrand kernkragnavorsingsprojek gevolg.

“Die proses is nou bykans afgehandel en hoewel die beste moontlike skeidingsooreenkoms vir werknemers hier beding is, is die einde van PBMR ʼn bittere tyd vir die werknemers en vir Suid-Afrika. Die navorsing wat tot dusver hier gedoen is, het Suid-Afrika op ʼn ander vlak geplaas wat kernkrag betref en die omvang van die verlies wat die beëindiging van die projek beteken sal nie nou eens bepaal kan word nie. Die toekoms lê eenvoudig in kernenergie en juis vanweë Suid-Afrika se huidige kragprobleme kan kernkrag werklik as een van die enigste oplossings vir die toenemende kragbehoeftes en -probleme beskou word,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.

Die minister van openbare ondernemings, Barbara Hogan, moet na bewering in Augustus vanjaar ʼn besluit oor die beskikbaarheid van befondsing vir die kernbedryf in Suid-Afrika neem. Dié besluit kan moontlik ʼn herlewing van PBMR tot gevolg kan hê, maar Solidariteit meen dat die skade en verlies aan kundigheid wat reeds met die afleggingsproses aangerig is, onherroeplik is. “Dit sal ʼn geval van mosterd ná die maal wees. Die meerderheid van PBMR se wetenskaplikes het reeds sedert die afleggingsproses in Februarie begin is, ander werk gekry. Hulle het groener weivelde in die buiteland gevind, wat ʼn jammerlike verlies aan kundigheid vir Suid-Afrika tot gevolg het,” beklemtoon Kleynhans. Wetenskaplikes het reeds poste in onder meer die VSA, Kanada en Australië aanvaar.

Intussen sal waarskynlik slegs 25 werknemers van PBMR by die maatskappy aanbly om die intellektuele eiendom wat reeds in die afgelope dekade opgebou is, te beskerm.

Ingevolge die skeidingsooreenkoms vir vrywillige afleggings wat beding is, sal werknemers wat afgelê word twee en ʼn half weke se salaris vir elke voltooide diensjaar ontvang. Daarbenewens sal werknemers ook ʼn uitbetaling van R5 000 vir opleiding ontvang.

 

 Stuur na 'n vriend Drukker vriendelike weergawe (Besigtig: 319 | Verwys: 2 | Gedruk: 28)

Volgende:
Solidariteit aanvaar nie Eskom-aanbod, maar stel wysigings voor
Solidariteit maak aankondiging oor Eskom-lone
Nóg ʼn afleggingskok vir Simmers se Buffelsfontein-myn – Solidariteit
Solidariteit sluit nóg mededingende loonooreenkomste
Produksiesektore tel kop op, toon werkskeppingsyfers – Solidariteit

Vorige:
Swak bestuur verantwoordelik vir wankelrige omstandighede by granietmaatskappy, maan Solidariteit
Cele laat aanstelling van oud-polisielede sloer terwyl dienslewering steeds ly, maan Solidariteit
Eskom beoog om miljoene rande se prestasie-aandele aan direkteure te betaal
Eskom-loongesprekke duur voort – Solidariteit
Uitstel van digitale migrasie kan ekonomie benadeel, waarsku Solidariteit


© 2005 - 2008. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login