Mediaverklarings


Eskom beoog om miljoene rande se prestasie-aandele aan direkteure te betaal
Solidariteit, 15 Junie 2010

Die vakbond Solidariteit het vandag syfers bekend gemaak wat wys dat Eskom in sy state voorsiening maak vir die uitbetaling van R9,6 miljoen se prestasie-aandele aan direkteure en senior bestuurders hierdie maand. Volgens die state kan van die direkteure tot soveel as R1 miljoen se uitbetalings ontvang. Die betaalbare prestasie-aandele kan van Junie vanjaar tot Junie 2011 met ʼn verdere 70% styg tot R16,3 miljoen.

Volgens terugvoer van Eskom aan Solidariteit sal die uitbetalings in Julie vanjaar gemaak word. Hierdie prestasie-uitbetalings en verhogings vind in dieselfde tyd plaas as die loononderhandelings met Eskom-werknemers, waar Eskom nou sy loonaanbod opwaarts aangepas het na 7%.

Die vakbonde Solidariteit, NUM en NUMSA en Eskom probeer vandag weer, onder die toesig van die KVBA, om ʼn skikking in die loondispuut te bereik. “Ons sal alles in ons vermoë doen om ʼn skikking te bereik”, het Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

ʼn Opname deur Solidariteit onder Eskom-werknemers dui op ʼn totale breuk tussen werknemers en die bestuur. In die peiling het 92% van die respondente gesê dat daar ʼn breuk tussen die Eskom-bestuur en sy werknemers is. Daarbenewens het 95% van die respondente gesê dat die Eskom-bestuur nie omgee vir sy werknemers nie.

“Die resultate van die opname dui op ʼn krisis in arbeidsverhoudinge in Eskom. Indien die onderliggende probleme rakende arbeidsverhoudinge in Eskom nie opgelos word nie, sal ʼn bevredigende loonooreenkoms nooit bereik kan word nie. Die werknemers sal hou by hoë looneise, nie omdat dit inflasieverwant is nie, maar omdat dit frustrasieverwant is. Die onderliggende arbeidsverhoudingekwessies in Eskom moet opgelos word, anders gaan die maatskappy strompel van een geskil met sy werknemers na die ander,” het Hermann gesê.

Byna ʼn driekwart, oftewel 73%, van Eskom-werknemers sê dat hulle Eskom sal verlaat indien hulle dieselfde salaris elders kan kry. “Hierdie antwoord gee ʼn aanduiding van hoe ongelukkig Eskom-werknemers is. Solidariteit doen gereeld studies onder sy lede, maar hierdie soort ongelukkigheid is ongekend. Daar is dus iets groot fout in Eskom,” volgens Hermann.

“In plaas daarvan om arbeidsverhoudinge reg te bestuur, het Eskom eerder besluit om ʼn deksel op die kookpot te sit. Hulle weier om ʼn minimumdienste-ooreenkoms in werking te stel en ontneem sodoende die werknemers van die reg om te staak. Werknemers voel dus dat hulle nie toegelaat word om uiting te gee aan hulle frustrasies nie en die gevolg is ʼn drukkoker wat wag om te ontplof omdat daar geen uitlaatklep is nie,” het Hermann bygevoeg.

Hermann het verder gesê: “Eskom bestuur sy arbeidsverhoudinge op dieselfde manier as wat hy sy infrastruktuur bestuur het. Daar is nie voldoende aandag aan arbeidskwessies gegee nie en werknemers is gevolglik nie meer lus is om vir Eskom te werk nie. Hulle is eenvoudig moeg. Vir jare moes hulle onder die moeilikste omstandighede Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsieningsnetwerk in stand hou. Hulle moes dit doen ten spyte van swak strategiese besluite deur die bestuur.”

 

 Stuur na 'n vriend Drukker vriendelike weergawe (Besigtig: 192 | Verwys: 0 | Gedruk: 29)

Volgende:
Solidariteit sluit nóg mededingende loonooreenkomste
Produksiesektore tel kop op, toon werkskeppingsyfers – Solidariteit
Grootste verlies aan kernkundiges nóg, maan Solidariteit nadat bitter einde vir PBMR aanbreek
Swak bestuur verantwoordelik vir wankelrige omstandighede by granietmaatskappy, maan Solidariteit
Cele laat aanstelling van oud-polisielede sloer terwyl dienslewering steeds ly, maan Solidariteit

Vorige:
Eskom-loongesprekke duur voort – Solidariteit
Uitstel van digitale migrasie kan ekonomie benadeel, waarsku Solidariteit
Peiling dui op totale breuk tussen Eskom bestuur en werknemers
Loonstryd duur voort by talle maatskappye – Solidariteit
Aurora-werknemers staak oor salarisse en lewensversekering


© 2005 - 2008. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login