|
Uitstel van digitale migrasie kan ekonomie benadeel, waarsku Solidariteit
Solidariteit, 10 Junie 2010
Die vakbond Solidariteit het vandag sy stem by die uitsaaiers M-Net en e-tv gevoeg en gewaarsku dat die regering se besluiteloosheid oor watter tegniese standaard vir die digitale migrasie in Suid-Afrika gebruik moet word, ʼn vermorsing van geld sal beteken en die proses sal vertraag. Daarbenewens hou Solidariteit vol dat plaaslike inligtingstegnologiemaatskappye wat reeds met die ontwikkeling van dekodeerders – oftewel Set Top Boxes (STB’s) – vir die oorskakeling begin het, groot verliese sal kan ly.
Digitale migrasie verwys na die oorskakeling van analoog- na digitale televisie. Die spertyd wat deur die internasionale telekommunikasie-unie
(ITU) gestel is, bepaal dat alle lande reeds teen 2015 die digitale migrasieproses moet voltooi. Ingevolge Suid-Afrika se oorspronklike plan sou Suid-Afrikaners reeds teen April vanjaar kon begin STB’s aankoop, waarna die analoogsein oor ʼn tydperk uitgefaseer sou word en uiteindelik in November
2011 afgeskakel sou word.
Solidariteit se reaksie volg op die minister van kommunikasie, Siphiwe Nyanda, se aankondiging vroeër vandeesmaand dat die oorskakeling vertraag gaan word weens die hersiening van tegniese standaarde. “Hoewel Suid-Afrika se migrasieplan reeds goed op dreef was en selfs internasionaal geprys is, word daar nou oorweeg om nie meer van die Europese standaard (DVB-T) gebruik te maak nie, maar eerder die Japannese standaard (ISDB-T),” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
“Hierdie besluiteloosheid is ʼn onnodige vermorsing van kosbare tyd en geld,”
beklemtoon Kleynhans. “Kenners meen dat die Japannese standaard wat nou ondersoek word nie veel verskil van die nuwer Europese standaard (DVB-T2) wat intussen ontwikkel is nie. Daarbenewens is nagenoeg twee jaar se ondersoeke na die geskikte standaard reeds gedoen, waarna daar op die Europese standaard besluit is. Dit laat daarom vrae ontstaan oor hoekom daar nou ewe skielik eerder na die Japannese standaard gekyk word.”
Intussen het talle Suid-Afrikaanse inligtingskommunikasiemaatskappye reeds met die ontwikkeling van STB’s begin. “Tyd en geld is reeds deur hierdie maatskappye belê om die STB’s volgens die Europese standaard te ontwikkel en die moontlikheid dat die Japannese standaard nou eerder gebruik gaan word, gooi die beplanning van koers af en kan geweldige finansiële verliese vir die maatskappye beteken. Daarbenewens loop die maatskappye ook nou die gevaar om nie betyds die tegnologie plaaslik te kan vervaardig nie en sal verbruikers moontlik ingevoerde tegnologie aankoop wat verdere finansiële implikasies vir plaaslike maatskappye inhou. Die regering het duidelik nie die invloed van hul besluiteloosheid op die plaaslike ekonomie in berekening gebring nie,” verduidelik Kleynhans.
M-Net en e-tv het vandeesweek gewaarsku dat die STB’s vir die Japannese standaard verbruikers blykbaar twee keer soveel as STB’s vir die Europese standaard uit die sak sal jaag. Solidariteit hou vol dat as daar wel op die Japannese standaard besluit word die regering soveel meer sal moet bydra om sy beloftes vir subsidies vir die aankoop van STB’s aan armer Suid-Afrikaners na te kom. “Die minister het in 2009 aangedui dat daar nagenoeg R400 miljoen beskikbaar is om dié subsidiëring aan sowat 5 miljoen huishoudings te finansier. ʼn Duurder stelsel sal egter beteken dat die regering nagenoeg R800 miljoen sal moet beskikbaar stel om dieselfde
hoeveelheid mense te kan subsidieer,” sê Kleynhans.
Volgens Kleynhans funksioneer ISDB op ʼn ander bandwydte as wat vir Suid-Afrika geskik is. Plaaslik word ʼn bandwydte van 8MHz gebruik terwyl ISDB van ʼn bandwydte van 5,6MHz gebruik maak. Daarenteen gebruik DVB ook 8MHz.
 
|