Mediaverklarings


Loonstryd duur voort by talle maatskappye – Solidariteit
Solidariteit, 8 Junie 2010

Inflasiemaatstaf verloor waarde in loononderhandelinge

Loononderhandelingseisoen is in volle swang en onderhandelinge word tans by talle maatskappye namens lede van die vakbond Solidariteit hanteer. Hoewel onderhandelinge steeds by verskeie maatskappye in ʼn vroeë stadium is, meen Solidariteit dat maatskappye in die algemeen vanjaar uiters koppig ten opsigte van werknemers se eise staan.

Solidariteit het uit die staanspoor met vanjaar se onderhandelinge beklemtoon dat geen loonverhoging onder die vlak van inflasie aanvaar sal word nie. “Volgens navorsing wat Solidariteit vir vanjaar se onderhandelinge gedoen het, is dit duidelik dat inflasie slegs as ʼn riglyn vir loonverhogings gebruik kan word, maar dat dié riglyn sy waarde tot ʼn mate verloor het aangesien dit nie meer werklik die bestedingspatrone van die meeste Suid-Afrikaanse werknemers weerspieël nie,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.

Hoewel ʼn nuwe inflasiemandjie aan die begin van 2009 ingestel is, is data hiervoor reeds verouderd. Solidariteit beklemtoon ook dat die gewigte wat aan die onderskeie kategorieë toegeken word nie verteenwoordigend van ware bestedingspatrone van werkende mense is nie. Volgens die huidige mandjie spandeer Suid-Afrikaners blykbaar net 1,87% van hul inkomste aan elektrisiteit, terwyl besteding in dié kategorie op tussen 6% en 10% van Suid-Afrikaners se inkomste gemeet kan word. Daarbenewens dra gesondheid slegs 1,47% tot die algehele inflasiemandjie by terwyl onderwys net 2,19% weeg.

“Vanweë die duidelike onderverteenwoordiging van aspekte waarop Suid-Afrikaners baie meer spandeer as wat die huidige inflasiemandjie te kenne wil gee, kan daar eenvoudig nie slegs na inflasie as ʼn algemene riglyn in onderhandelinge gekyk word nie. Maatskappye behoort die groter prentjie in oënskou te neem en sodoende besef dat ʼn verhoging gelyk aan of net bo die vlak van inflasie geen verbetering op werknemers se salarisse sal bied nie.

Trouens, verhogings volgens die huidige vlak van inflasie sal werknemers beslis verarm,” beklemtoon Kleynhans.

Solidariteit is intussen besig met talle loononderhandelinge. Sien hieronder ʼn kort uiteensetting van sommige van die onderhandelinge waarby Solidariteit tans betrokke is.

Solidariteit-loononderhandelinge:

• Eskom

Loononderhandelinge is verlede week voortgesit en in hierdie stadium bied die maatskappy steeds net ʼn loonverhoging van 5,5% aan. Vir die tweede en derde jaar van die ooreenkoms bied Eskom tans ʼn verhoging van inflasie plus 1%. ʼn Geskil is hier verklaar en na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

* Samancor Chroom

Samancor Chroom se Middelburg-, Witbank- en Steelpoort-aanlegte het oorspronklik ʼn 5%-loonaanbod gemaak. Die maatskappy het verlede week ʼn daaropvolgende loonverhoging van 8,5% aangebied. Solidariteit het nou dié verhoging aanvaar.

* Denel

Solidariteit het onlangs ʼn loongeskil met Denel sowel as sewe van die maatskappy se entiteite (PMP, Denel Dynamics, Denel Aviation, Denel Saab Aerostructures, OTB, Denel Properties en Denel Integrated Systems Solutions) verklaar nadat karige loonverhogings eensydig geïmplementeer is. Solidariteit meen dat Denel se inmenging in vanjaar se onderhandelinge by die onderskeie entiteite doeltreffende onderhandelinge gekniehalter het.

• Necsa

Loononderhandelinge hier sloer reeds nagenoeg drie maande. Ingevolge die jongste aanbod bied die maatskappy slegs ʼn verhoging van 4% aan. Die maatskappy sal later vandeesweek met sy raad vergader voordat loononderhandelinge voortgesit kan word.

• Medi-Clinic

Die tweede ronde van loononderhandelinge het verlede week plaasgevind. Solidariteit hanteer onderhandelinge namens lede van die groep se Hart-hospitaal in Pretoria en die Emfuleni-hospitaal in Vanderbijlpark. Ná afloop van die tweede ronde bied die maatskappy nou reeds ʼn gemiddelde verhoging van meer as 8% aan verpleeg- en administratiewe personeel van die twee hospitale.

• DMS Powders

Dié vervaardiger van ferrosilikoon in Meyerton bied tans ʼn loonverhoging van 5,6% aan.

• Kumba Iron Ore

Die eerste ronde van loononderhandelinge is reeds hier afgehandel en die maatskappy bied in hierdie stadium ʼn loonverhoging van slegs 5,5% aan. Die tweede ronde van onderhandelinge sal vandag plaasvind.

• Exxaro

Solidariteit hanteer tans loononderhandelinge namens lede by twee Exxaro-afdelings naamlik Exxaro Coal Mpumalanga (ECM) en Exxaro Coal (EC). EC sluit die myne in die Lephalale-omgewing (Ellisras) in. Onderhandelinge het in Mei hier afgeskop en ná een ronde bied die maatskappy nou ʼn verhoging van 6% aan. Solidariteit verteenwoordig nagenoeg 1 500 van ECM en EC se werknemers. Onderhandelinge sal op 22 en 30 Junie voortgesit word.

• Vaalharts Water

Solidariteit het verlede week ʼn loongeskil by die land se grootste waterskema verklaar. Die maatskappy bied tans ʼn verhoging van 6% en dreig om afleggings deur te voer sou vakbonde aanhou aandring op ʼn hoër verhoging. Solidariteit eis tans ʼn verhoging van 11,5%.

• MPF (Mine Pension Fund)

Loonverhogings by MPF word gekoppel aan werknemers se prestasie. Ingevolge die loonaanbod wat nou van die bestuur ontvang is, sal werknemers wat op die hoogste prestasievlak gegradeer word ʼn maksimumverhoging van 9% kan ontvang. Die aanbod is na die lede geneem en aanvaar. ʼn Ooreenkoms sal egter eers onderteken word sodra die hele verhoging- en graderingsproses gefinaliseer is.

• Nuwebande-vervaardigingsbedryf (New Tyre Manufacturing Industry)

Loononderhandelinge in die nuwebande-vervaardigingsbedryf word sover gekenmerk as taai. Loononderhandelinge vir die grootste vervaardigers van bande in Suid-Afrika, waaronder Continental, Dunlop, Bridgestone en Goodyear, word by die bedingingsraad vir die New Tyre Manufacturing Industry (NTMI) hanteer. Die werkgewers het in die tweede ronde van onderhandelinge ʼn 4,87%-loonaanbod gemaak, wat Solidariteit van die hand gewys het. Onderhandelinge gaan steeds voort.

* ArcelorMittal

ArcelorMittal het reeds vyf rondes loononderhandelinge agter die rug en die staalreus bied tans ʼn 6%-loonverhoging aan. Solidariteit verteenwoordig sowat 2 500 lede by ArcelorMittal en werknemers het tot op hede nog geen loonaanbod aanvaar nie.

• Silicon Smelters

Silicon Smelters, die grootste vervaardiger van silikon in Suid-Afrika, het ná twee rondes van loononderhandelinge nog net ʼn loonverhoging van 4% aangebied. Solidariteit het die aanbod van die hand gewys. Die derde ronde van loononderhandelinge gaan vandag plaasvind.

• Colgate

Geskil is in Mei hier verklaar en die geskil sal vandeesweek (8 Junie) by die Nasionale Bedingingsraad vir die Chemiese Bedryf (NBCCI) aangehoor word. Die maatskappy bied tans ʼn loonverhoging van slegs 7% aan.

• Rand Carbide

Rand Carbide se tweede ronde loononderhandelinge het verlede week plaasgevind. Rand Carbide het onderhandelinge met ʼn 4,2%-loonaanbod begin en die aanbod in die tweede ronde na 4,8% opgeskuif. Solidariteit het nog geen aanbod aanvaar nie en onderhandelinge sal op 22 Junie voortgesit word.

• Consolidated Murchison Mine (Consmurch)

Metrorex se Consolidated Murchison Mine (Consmurch) se loononderhandelinge het op 1 Junie 2010 afgeskop. Solidariteit onderhandel tans vir markverwante salarisse vir werknemers. Consmurch toon steeds ʼn finansiële verlies. Die volgende ronde onderhandelinge vind op 12 Julie 2010 plaas.

* Chemiese bedingingsraad

Ø Petroleum: ʼn Tweejaarloonooreenkoms is in 2009 hier gesluit en ingevolge die ooreenkoms ontvang werknemers vanjaar hier ʼn loonverhoging van 7,25% in Julie en dan ʼn bykomende 0,5% in Januarie 2011 op grond van werknemers se Junie 2010-salarisse.

Ø Nywerheidschemikalieë: Ingevolge die loonaanbod wat verlede week aan werknemers gemaak is, bied werkgewers tans ʼn loonverhoging van 7,3% vir implementering in Julie vanjaar aan, sowel as ʼn bykomende 0,5%-verhoging op grond van werknemers se Junie 2010-salarisse vir implementering in Januarie 2011. ʼn Loonooreenkoms sal na verwagting binnekort hier bereik word.

Ø Glas: Loononderhandelinge is midde-in die tweejaarloonooreenkoms heropen en die werkgewer bied ʼn loonverhoging van 6,25%.

* LNR

Die Landbounavorsingsraad (LNR) bied tans ʼn loonverhoging van 4,8%. Intussen weier die organisasie om inligting rakende sy bestuur se salarisse bekend te maak. Onderhandelinge hier duur steeds voort.

 

 Stuur na 'n vriend Drukker vriendelike weergawe (Besigtig: 152 | Verwys: 0 | Gedruk: 31)

Volgende:
Cele laat aanstelling van oud-polisielede sloer terwyl dienslewering steeds ly, maan Solidariteit
Eskom beoog om miljoene rande se prestasie-aandele aan direkteure te betaal
Eskom-loongesprekke duur voort – Solidariteit
Uitstel van digitale migrasie kan ekonomie benadeel, waarsku Solidariteit
Peiling dui op totale breuk tussen Eskom bestuur en werknemers

Vorige:
Aurora-werknemers staak oor salarisse en lewensversekering
Eskom veroorsaak vertrouensbreuk tussen werknemers en maatskappy, maan Solidariteit
Loononderhandelinge in glassektor heropen – Solidariteit
Solidariteit verklaar geskil met Suid-Afrika se grootste waterskema
Solidariteit weier om Silicon Smelters se loonaanbod te aanvaar


© 2005 - 2008. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login