Mediaverklarings


Aurora-werknemers staak oor salarisse en lewensversekering
Solidariteit, 7 Mei 2010

Aurora moet nou verantwoordelikheid neem, eis Solidariteit

Die nagenoeg 100 oorblywende werknemers van Aurora se Grootvlei-myn buite Springs aan die Oosrand wat verantwoordelik is vir die sorg- en instandhoudingswerk hier het vandag met ʼn volskaalse staking begin. Werknemers is ontevrede omdat hulle sedert Februarie nog nie betaal is nie en aangesien dit intussen aan die lig gekom het dat geen lewensversekering vir hulle uitgeneem is nie.

Solidariteit het reeds verlede week Aurora se bestuur skriftelik van die werknemers se ontevredenheid in kennis gestel, maar het tot dusver geen terugvoer ontvang nie. Die vakbond hou nou vol dat die maatskappy verantwoordelikheid vir dié werknemers en hul veiligheid moet neem.

Dié werknemers, verantwoordelik vir onder meer die uitpomp van gekontamineerde mynwater uit die myn, is die laaste oorblywende werknemers van die myn se nagenoeg 3 000 werknemers. Die instandhoudingswerk wat hier gedoen word, is noodsaaklik om die myn as ʼn bate te beskerm.

Volgens die adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit, Gideon du Plessis, het dié werknemers aangebly om die noodsaaklike diens van instandhouding op die myn te verrig, maar ten spyte daarvan dat hulle steeds werk, ontvang hulle geen salarisse nie. “Meer kommerwekkend is die feit dat geen lewens- en ongeskiktheidsversekering op hierdie werknemers uitgeneem is nie,” verduidelik Du Plessis. “Dit beteken uiteindelik dat, sou enige van dié werknemers in ʼn ongeluk betrokke wees, daar geen vergoeding aan die werknemer uitbetaal kan word nie. Intussen werk dié werknemers in uiters gevaarlike omstandighede.”

Ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes van 1993 (voorheen bekend as die Workmen’s Compensation Act) is die myn verplig om die nodige versekering vir sy werknemers uit te neem.

Du Plessis beklemtoon ook dat die staking ʼn ernstige negatiewe invloed op die natuur en die myn self kan hê. “As die uitpomp van die gekontamineerde mynwater nie vandeesweek nog hervat word nie, kan dit uiteindelik daartoe lei dat die hele bate van die Grootvlei-myn vernietig word. Daarbenewens hou dit ook ʼn wesenlike gevolg vir die natuur in,” verduidelik hy.

“Werknemers het nou breekpunt bereik. Sedert die probleme in Februarie hier opgeduik het, het die werknemers nog nie ʼn enkele maand hul volle salarisse ontvang nie. Hulle werk in haglike en uiters gevaarlike omstandighede en intussen doen die myn se eienaars geen moeite om die infrastruktuur en die veiligheid in die myn te verbeter nie,” sê Du Plessis.

 

 Stuur na 'n vriend Drukker vriendelike weergawe (Besigtig: 89 | Verwys: 2 | Gedruk: 31)

Volgende:
Eskom beoog om miljoene rande se prestasie-aandele aan direkteure te betaal
Eskom-loongesprekke duur voort – Solidariteit
Uitstel van digitale migrasie kan ekonomie benadeel, waarsku Solidariteit
Peiling dui op totale breuk tussen Eskom bestuur en werknemers
Loonstryd duur voort by talle maatskappye – Solidariteit

Vorige:
Eskom veroorsaak vertrouensbreuk tussen werknemers en maatskappy, maan Solidariteit
Loononderhandelinge in glassektor heropen – Solidariteit
Solidariteit verklaar geskil met Suid-Afrika se grootste waterskema
Solidariteit weier om Silicon Smelters se loonaanbod te aanvaar
Telkom maak nuwe voorstel om salarisongelykhede op te los


© 2005 - 2008. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login