|
Eskom veroorsaak vertrouensbreuk tussen werknemers en maatskappy, maan Solidariteit
Solidariteit, 3 Junie 2010
Solidariteit verklaar loongeskil met Eskom
Loononderhandelinge tussen die kragvoorsiener Eskom en vakbonde het gister finaal vasgeval en ʼn geskil is verklaar, het Solidariteit vandag gesê.
Solidariteit hou vol dat Eskom se hardkoppigheid in vanjaar se onderhandelinge die proses onnodig strem en tot ʼn vertrouensbreuk tussen werknemers en die maatskappy gelei het.
“Werknemers se vertroue in Eskom is tans op ʼn laagtepunt,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans. “Werknemers sal nie langer ʼn rat voor die oë gedraai word nie. Hoewel die maatskappy se waarnemende voorsitter, Mpho Makwana, gister aangedui het dat die maatskappy op die herstelpad is en Eskom in die afgelope jaar ʼn netto wins van nagenoeg R3,6 miljard getoon het, word bankrotskap in loononderhandelinge gepleit en werknemers word krummels aangebied.”
Eskom se loonaanbod is tans ʼn 5,5%-verhoging. Vir die tweede en derde jaar van die ooreenkoms bied Eskom tans ʼn verhoging van inflasie plus 1%.
Werknemers se eis rakende ʼn behuisingstoelaag skep veral wrywing in vanjaar se onderhandelinge. “Beloftes van ʼn verbeterde behuisingstoelaag word jare reeds aan werknemers gemaak en intussen het daar nog niks van gekom nie. Dit kom terwyl die bestuur reeds in 2009 ʼn eenmalige “cost to living”-betaling van R60 000 ontvang het. Daarbenewens ontvang die bestuur nou ook ʼn “cost to living”-toelaag van R5 000 per maand,” sê Kleynhans. Die verhouding van werknemers tot bestuurders word tans op 5 tot 1 gereken.
Solidariteit hou vol dat die onderhandelingsproses vanjaar uiters teleurstellend verloop. “Ons het gehoop dat die nuwe uitvoerende bestuur ʼn beter benadering in vanjaar se onderhandelinge sou volg, maar dit was beslis nie die geval nie. Die houding van die bestuur in dié onderhandelinge is rede tot kommer,” meen Kleynhans.
“Eskom speel ʼn gevaarlike speletjie in vanjaar se onderhandelinge.
Onderhandelinge het reeds op 14 April begin met die doel om die onderhandelinge voor die afskop van die Sokkerwêreldbeker te finaliseer.
Eskom sloer egter die proses onnodig en het eers teen 27 Mei ʼn openingsaanbod gemaak. Die wrywing wat nou bestaan, kon voor dié toernooi uitgeklaar gewees het,” sê Kleynhans.
 
|