|
Loononderhandelinge in glassektor heropen – Solidariteit
Solidariteit, 2 Junie 2010
Hoewel ʼn tweejaarloonooreenkoms verlede jaar in die glassektor van die Nasionale Bedingingsraad vir die Chemiese Bedryf (NBCCI) bereik is, het loononderhandelinge in dié sektor nou heropen, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.
Volgens Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans is onderhandelinge verlede week hier heropen aangesien ʼn klousule in die ooreenkoms bepaal dat onderhandelinge in die tweede jaar van die ooreenkoms hervat moet word indien inflasie vir April onder die 5,5%-vlak beweeg. Inflasie vir April is op 4,8% gereken.
Solidariteit en die ander vakbonde in die sektor het reeds ʼn looneis van 9,5% aan werkgewers voorgelê. In dié stadium bied werkgewers ʼn loonverhoging van 6,25%.
Dié onderhandelinge het slegs betrekking op die loonverhoging en daar sal oor geen ander kwessies onderhandel word nie. Ingevolge die loonooreenkoms wat in 2009 bereik is, sou werknemers vanjaar ʼn loonverhoging gelykstaande aan die vlak van verbruikersprysinflasie vir April plus 0,5% ontvang het.
“Werkgewers sal beslis met ʼn verbeterde loonaanbod na die volgende ronde van onderhandelinge moet kom aangesien die huidige aanbod slegs ʼn 1%-verbetering op die huidige ooreenkoms se verhoging bied,” verduidelik Kleynhans.
Intussen is daar nog nie op ʼn datum vir die tweede ronde van onderhandelinge besluit nie.
Vyftien verskillende maatskappye word in dié sektor van die NBCCI verteenwoordig, waaronder die PG Group en Consol Glass.
Die loonverhoging moet reeds teen 1 Julie geïmplementeer word.
Loononderhandelinge in die nywerheidschemikalieë-sektor word vandag en môre voortgesit.
Wat die petroleumsektor betref, sal geen loononderhandelinge vanjaar hier gevoer word nie. Ingevolge die tweejaarloonooreenkoms wat verlede jaar met vakbonde bereik is, sal werknemers vanaf 1 Julie ʼn verhoging van 7,25% ontvang aangesien inflasie vir April onder 5,75% gedaal het. In Januarie
2011 sal werknemers ook ʼn bykomende 0,5% op Junie 2010 se salaris ontvang.
 
|