|
Telkom maak nuwe voorstel om salarisongelykhede op te los
Solidariteit, 1 Junie 2010
Salarisongelykhede onder werknemers in Telkom se MCNO-kantoor (voorheen die Merlot-projek) en die grootste enkele eenheid in die maatskappy, die Data Advance Services-eenheid (DAS), kan moontlik binnekort iets van die verlede wees, het Solidariteit vandag gesê.
Dit volg nadat Telkom einde verlede week ʼn nuwe voorstel vir die oplossing van ernstige salarisongelykhede in dié twee eenhede aan vakbonde voorgelê het.
“Werknemers se ontevredenheid rakende dié ongelykhede het nou breekpunt bereik, maar Telkom se nuwe voorstel is ʼn duidelike bewys dat die maatskappy die erns van die situasie insien en besef dat ʼn oplossing dringend gevind moet word,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
Ongelykhede bestaan tans onderling tussen werknemers in die MCNO-kantoor sowel as tussen werknemers van dié kantoor en werknemers in die DAS-eenheid. Hoewel al dié werknemers op die OP1-vlak in Telkom is en daar voortdurend van ʼn groot meerderheid van werknemers in die DAS-eenheid vereis word om ook gespesialiseerde werk vir die kliënte van MCNO te doen, ontvang sekere MCNO-werknemers ʼn veel beter salaris en voordele.
Ingevolge Telkom se nuwe voorstel word werknemers in vier afsonderlike kategorieë gedeel waarvolgens die salarisongelykhede reggestel moet word.
Die nuwe voorstel bepaal dat werknemers in Kategorie A (werknemers wat reeds sedert 2008 op die Merlot-projek/MCNO-kantoor werk, maar nie die ooreengekome vergoeding ontvang nie); Kategorie B (werknemers wat sedert 2008 by die MCNO-kantoor aangesluit het en die volle dienste verrig, maar nie die ooreengekome vergoeding ontvang nie); en Kategorie C (werknemers in die DAS-eenheid wat gekwalifiseerd is en ten volle op die MCNO-projekte werk) so gou as moontlik op die regte salarisvlak geplaas sal word. Daarbenewens sal die gevalle van alle werknemers wat oortuig is dat hulle onbillik van die salarisaanpassing uitgesluit is op ʼn individuele grondslag ondersoek word om enige verdere salarisongelykhede in dié twee eenhede uit te skakel.
Volgens Kleynhans moet die lede nou eers dié voorstelle oorweeg. Hy beklemtoon dat hoewel die voorstelle nie noodwendig alle werknemers nou sal bevoordeel nie, Telkom se verbintenis tot die vind van ʼn oplossing vir die kwessie nou meer duidelik is. “Die druk wat vakbonde tot dusver op die maatskappy geplaas het, begin nou beslis vrugte afwerp. Die maatskappy begin ook nou insien dat die ongelykhede onaanvaarbaar is en daadwerklik aangepak moet word,” verduidelik hy.
Telkom het intussen erken het dat die kwessie van salarisongelykhede ook in die res van die maatskappy voorkom en dat daar ʼn omvattende oplossing vir die probleem benodig word. Solidariteit verwelkom Telkom se erkenning van die probleem. Telkom stel nou voor dat ʼn posevalueringsproses aangepak moet word om die ongelykhede reg te stel.
Die Merlot-projek is ʼn aantal jare gelede saamgestel en hanteer die instandhouding van die gesentraliseerde netwerk aan van Suid-Afrika se grootste maatskappye. Daarbenewens is die DAS-eenheid onder meer verantwoordelik vir die instandhouding van maatskappye se skakelborde sowel as die instandhouding van dataversendingslyne.
Nagenoeg 1 000 werknemers vorm deel van die DAS-eenheid.
 
|