|
Solidariteit verklaar geskil met Denel oor eensydige implementering van karige loonverhogings
Solidariteit, 26 Mei 2010
Denel en sewe van sy entiteite sal nou aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) moet verduidelik hoekom geen loonooreenkomste vanjaar by enige van dié maatskappye bereik kon word nie. Die vakbond Solidariteit het ʼn geskil na die KVBA verwys nadat loononderhandelinge vasgeval het weens die duidelike beperkinge wat Denel op die entiteite geplaas het. Dié beperkinge het nou daartoe gelei dat loonverhogings by elkeen van die entiteite eensydig geïmplementeer is.
Loononderhandelinge by PMP, Denel Dynamics, Denel Aviation, Denel Saab Aerostructures, OTB, Denel Properties en Denel Integrated Systems Solutions het vasgeval aangesien die Denel-raad vroeër vanjaar verhogings tot ʼn skamele 4% beperk het. Intussen is ʼn voorwaardelike ooreenkoms wel by Denel Land Systems bereik vir ʼn loonverhoging van 6%.
Solidariteit het kort nadat dit duidelik geword het dat Denel dié beperking op loononderhandelinge geplaas het, hewig gereageer aangesien die entiteite veronderstel is om onafhanklik te funksioneer en loononderhandelinge ook as sodanig te hanteer en te implementeer. Vakbonde het egter met loononderhandelinge by die onderskeie entiteite begin, maar dit het gou duidelik geword dat die beperkinge, soos deur die Denel-raad uiteengesit, loononderhandelinge sou kniehalter.
“Loononderhandelinge is by elkeen van die entiteite gevoer, maar vanweë die Denel-raad se besluit dat loonverhogings tot net 4% beperk sal word, kon daar eenvoudig geen ooreenkomste bereik word nie,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
Solidariteit sowel as die ander vakbonde in Denel het derhalwe aangedui dat die finale aanbiedinge nie aanvaar kan word nie en dat geen ooreenkoms onderteken sal word nie. Die loonverhogings is uiteindelik eensydig geïmplementeer.
“Die manier waarop Denel vanjaar se loononderhandelinge belemmer het, is kommerwekkend. Werknemers kan onder geen omstandighede met ʼn karige loonverhoging van slegs 4% tevrede wees nie. Dit sal geensins aan werknemers ʼn verbetering op hul salarisse bied nie. Die KVBA sal eenvoudig nou by die situasie moet ingryp,” beklemtoon Kleynhans.
As die geskil nie by die KVBA beredder kan word nie, kan elkeen van dié Denel-entiteite ʼn staking in die gesig staar.
 
|