|
Solidariteit hoop rentekoers sal ekonomie help stimuleer
Solidariteit
Die vakbond Solidariteit het vandag se besluit deur die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om rentekoerse met 1% te verlaag, verwelkom. Die vakbond hoop dat die besluit sal help om die plaaslike vraag in die Suid-Afrikaanse ekonomie te stimuleer, wat verdere werksverliese kan teenwerk.
“Solidariteit sou graag wou gehad het dat vandag se besluit al weke gelede moes plaasvind. Ons hoop nietemin dat die besluit om rentekoerse te verlaag nie te laat is nie en dat dit steeds kan voorkom dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in ʼn resessie beland. Ons hoop dat vandag se verlaging deur ʼn verdere 1%-verlaging in April opgevolg sal word,” sê Jaco Kleynhans, woordvoerder van Solidariteit.
Solidariteit sal graag ʼn sterker poging van die regering en die Reserwebank wil sien om die plaaslike vraag te stimuleer sodat verdere produksieverliese en gevolglik ook werksverliese voorkom kan word. “Dit is die Reserwebank se mandaat van die regering om inflasie te beheer en dit is duidelik dat die Monetêre Komitee nou in dié doel slaag aangesien inflasie baie nader aan die voorgestelde teiken van tussen 3% en 6% gebring is. Die huidige hoë rentekoers wat tans deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank gehandhaaf word, is egter ʼn remskoen op die regering se pogings om ekonomiese groei aan te moedig en ons hoop dat die rentekoerse in April en Mei ook maandeliks met minstens 1% gesny sal word.”
Jaco Kleynhans
Woordvoerder: Solidariteit
 
|