|
Solidariteit verwelkom Reserwebank se besluit om vroeër rentekoers-vergadering te hou
Solidariteit
Die vakbond Solidariteit het die Reserwebank se besluit om ʼn vervroegde vergadering te belê om oor ʼn aanpassing in die rentekoers te besluit, verwelkom. Solidariteit hou vol dat die tafel vir laer rentekoerse gedek is deur swakker bruto binnelandse produk, laer verbruikersprysinflasie en asook swakker vervaardigings- en mynbouproduksievlakke.
Solidariteit het reeds verskeie kere ʼn beroep op die Reserwebank gedoen om ʼn vergadering te belê en meen die Bank se besluit om die vergadering met sowat ʼn maand te vervroeg, kan hopelik die wurggreep op verbruikers vroeër as wat oorspronklik verwag is, verminder.
Die vergadering is vir eerskomende Maandag en Dinsdag geskeduleer. Solidariteit verwelkom ook die Reserwebank se besluit om voortaan elke maand, behalwe Julie, te vergader. Dit sal uiteindelik toesien dat monetêre beleid meer tydig aangepas word.
“Die tafel is gedek en die Reserwebank moet nou toesien dat laer rentekoerse op die spyskaart geplaas word. Die Reserwebank slaag reeds in hul mandaat om inflasie te beheer, maar die hoë rentekoers wat tans gehandhaaf word, plaas onnodige stremming op pogings om broodnodige ekonomiese groei aan te moedig,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
Jaco Kleynhans
Woordvoerder: Solidariteit
 
|