|
Solidariteit-lid sterf ná Sasol-ongeluk
Solidariteit
ʼn Sewe-en-vyftigjarige werknemer van Sasol in Secunda is vanoggend vroeg dood nadat hy beswyk het aan die beserings wat hy opgedoen het tydens ʼn ongeluk wat Woensdag by die aanleg plaasgevind het. Piet Smit, ʼn senior prosesbeheerder, was ʼn lid van die vakbond Solidariteit.
Die ongeluk het Woensdag by Sasol Secunda se olievermengingstasie plaasgevind nadat ʼn brand hier uitgebreek het. Nog twee werknemers is ook tydens die ongeluk beseer.
Intussen word ʼn ondersoek, gelei deur die Departement van Arbeid, vandag by die aanleg voortgesit om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. Solidariteit is ook by die ondersoek betrokke.
“Ongelukke soos dié bly onaanvaarbaar en hoewel Sasol ʼn goeie veiligheidsrekord in die afgelope paar jaar gehandhaaf het, is Solidariteit wel bekommerd oor die oorsaak van dié voorval en ʼn indringende ondersoek moet gedoen word om toe te sien dat soortgelyke ongelukke voorkom word,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.
Jaco Kleynhans
Woordvoerder: Solidariteit
 
|