|
Studente wat gradueer protesteer met geboeide hande teen regstellende aksie voor Departement van Arb
AfriForum Jeug
ʼn Groep studente, wat lede van AfriForum Jeug is, het vandag (geklee in togas) by die Departement van Arbeid se hoofkantoor in Pretoria protesteer teen die feit dat hulle nie werk kan kry nie as gevolg van die regering se regstellende aksiebeleid. Die studente se hande was geboei om uit te beeld hoe regstellende aksie jong gegradueerdes “vasboei” deur werksgeleenthede van hulle te ontneem.
Die studente het ʼn memorandum oorhandig, waarin gevra word dat die Minister van Arbeid hulle boeie kom losmaak deur hulle van regstellende aksie vry te stel. Dié aksie maak deel uit van AfriForum Jeug se veldtog om jongmense van regstellende aksie te bevry.
AfriForum Jeug se Nasionale Voorsitter, Ernst Roets, het verduidelik dat die jeug ʼn vry geslag is en dat hulle as gelykes behandel moet word. “Die studente wat vandag op kampus loop, het hulle volledige skoolloopbaan in die post-1994 tydperk voltooi. Ons as studente het almal dieselfde geleenthede op skool en universiteit gekry. Om nou ʼn eksklusiewe rassebeleid op ons af te dwing, is ʼn skending van ons regte op gelykheid en menswaardigheid.”
By die geleentheid is ‘n verskerping van AfriForum Jeug se veldtog teen onbillike regstellende aksie ook aangekondig. In die komende jaar gaan met verskeie rolspelers, wat die Menseregtekommissie en ander jeuginstansies insluit, in verbinding getree word. Verder word ‘n aantal protesaksies beplan vir 2009.
 
|