|
Samancor Chroom begin proses om nagenoeg 20% van werknemers af te lê
Solidariteit
Die ferrochroom-vervaardiger Samancor Chroom het kennisgewings aan werknemers en vakbonde uitgereik waarin die maatskappy aandui dat hy beplan om nagenoeg 20%, oftewel 900 van die maatskappy se sowat 4 690 werknemers, af te lê. Dié besluit volg volgens Jurgen Schalamon, uitvoerende hoof van Samancor Chroom, op verskeie maatreëls wat die groep ingestel het om te poog om afleggings af te weer.
Die groep het onder meer in die afgelope drie maande reeds maatreëls soos betaalde langverlof gedurende die sluitperiode, afskaffing van kontrakdienste, vermindering van oortyd en die beskikbaarstelling van vrywillige skeidingspakkette toegepas.
Volgens Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans is Solidariteit baie dankbaar vir maatreëls soos dié wat die afgelope tyd by talle maatskappye toegepas is. “Die probleem is egter dat die maatreëls in baie gevalle nie volhoubaar is nie en dat dit eintlik ʼn voorloper tot gedwonge afleggings is,” verduidelik Kleynhans. “Afleggings sal by al ses die groep se eenhede gedoen word,” het Kleynhans bygevoeg. Dié eenhede sluit in Western-chroommyne (buite Mooinooi), Ferrometals (in Witbank), Middelburg Ferrochroom, Eastern-chroommyne en Tubatse Ferrochroom (buite Steelpoort), en Samancor-hoofkantoor (in Johannesburg).
Die maatskappy het intussen ook aangedui dat hy steeds met vrywillige afleggings en vrywillige vroeë aftredes sal voortgaan.
Volgens ʼn brief rakende die beplande afleggings wat die bestuur aan werknemers gestuur het, sal produksie by Samancor se smelters met 55% gesny word, terwyl produksie met 50% by die groep se myne gesny sal word. Daarbenewens sal allooi-verkope en uitvoer ertsverkope met sowat 45% en 60% onderskeidelik verminder word.
Jaco Kleynhans
Woordvoerder: Solidariteit
 
|