|
AfriForum-afvaardiging gaan na Europa om SA Regering by IOK te verkla rakende politieke inmenging in
AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deur Solidariteit gestig is, beplan om ‘n hoë-vlak afvaardiging na Europa te stuur om internasionale sportliggame soos die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), die sokkerbeheerliggaam FIFA en die Internasionale Rugbyraad (IRR) in te lig rakende die Suid-Afrikaanse regering se politieke inmenging in SA-sport. AfriForum wil met dié stap verseker dat die internasionale sportliggame met die Suid-Afrikaanse regering in gesprek tree om “te keer dat Suid-Afrika homself weer van die internasionale sportgemeenskap isoleer weens die oortreding van internasionale sportregulasies”. Die voorgenome besoek aan Europa volg nadat die nasionale vergadering gister die Wysigingswet op Nasionale Sport en Rekreasie, wat dit vir die minister van Sport wetlik moontlik sal maak om in die bestuur van sportliggame in te meng, goedgekeur het.
Voordat die afvaardiging na Europa vertrek, sal AfriForum as “laaste poging om die probleem intern op te los”, ‘n skrywe aan president Mbeki stuur waarin hy versoek sal word om die nuwe wysigingswet af te keur wanneer dit op sy tafel land. Mbeki sal in dié skrywe deur AfriForum ingelig word dat die IOK en FIFA se handveste politieke inmenging in sport uitdruklik verbied. Artikel 2.10 van die IOK se Olimpiese Handves bepaal byvoorbeeld dat enige “politieke misbruik van sport en atlete” teengestaan moet word, terwyl Artikel 3.2 “enige vorm van diskriminasie” op grond van ras verbied. Verder het FIFA reeds op 3 Julie 2006 vir Griekeland uit internasionale sokker geskors weens dié land se regering se inmenging in sport. FIFA het aangedui dat “slegs sokkerstrukture oor sokker-aangeleenthede besluite mag neem, onafhanklik van regeringsinmenging”. Die feit dat die Suid-Afrikaanse minister van Sport met die nuwe wysigingswet die mag sal kry om wetlik bindende opdragte aan sportliggame te gee, is direk in botsing met hierdie internasionale sportregulasies.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie die afgelope jaar talle pogings aangewend om die dispuut rakende die wysigingswet binnelands deur die bestaande parlementêre strukture op te los. AfriForum het onder meer ‘n versoekskrif aan die parlement oorhandig en ‘n mondelinge voorlegging aan die parlement se Sport en Ontspanning Portefeuljekomitee gemaak om te vra dat die nuwe wysigingswet nie in sy huidige vorm aanvaar moet word nie. “Die arrogante wyse waarop AfriForum se billike insette deur politieke ideoloë in die parlement – wat hulle as sportliefhebbers voordoen – afgeskiet is, laat ons met geen ander keuse as om die saak te begin internasionaliseer nie,” het Kriel bygevoeg.
In die lig van die feit dat Suid-Afrika die gasheerland vir die 2010-Sokkerwêreldbeker is, asook die ander voordele wat deelname aan internasionale sport vir die land as geheel inhou, is dit volgens Kriel in niemand se belang dat die Regering nou internasionale sporthandveste oortree nie.
Kriel het ook daarop gewys dat die aanvaarding van die wysigingswet die skeiding tussen staatsorgane en organe van die burgerlike samelewing afwater en ʼn regstreekse bedreiging vir demokratiese beginsels in die land inhou. ʼn Duidelike onderskeid tussen die organe van die staat en organe van die burgerlike samelewing – soos sportbeheerliggame – is na Kriel se mening ʼn sleutelvereiste vir die bestaan van ʼn volwaardige demokrasie. Kriel het daarop gewys dat hierdie onderskeid, wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word, ononderhandelbaar behoort te wees.
AfriForum se navorsingsafdeling het volgens Kriel reeds begin met die samestelling van ‘n bundel wat tientalle voorbeelde sal bevat van hoe politici tans in SA Sport inmeng. Die bundel sal tydens die voorgenome besoek aan Europa aan die internasionale sportliggame oorhandig word. Kriel het ook aangedui dat AfriForum se afvaardiging na Europa uit bekende voormalige sportmense en ‘n kenner van internasionale sportregulasies sal bestaan. Die name van die afvaardiging sal bekend gemaak word indien die president die wysigingswet finaal goedkeur.
Kallie Kriel
Uitvoerende Hoof: AfriForum
 
|