|
Wit vroue dalk té wit vir regstelaksie- Sake Beeld
Francois Williams
Die Kommissie vir Diensbillikheid, wat maatskappye se vordering met regstellende aksie monitor, wonder in sy jongste verslag of wit vroue nog deur regstellende aksiebeleid bevoordeel moet word.
Sy nuutste verslag toon dat wit vroue op alle bestuursvlakke oorverteenwoordig word in verhouding tot die totale getal wit vroue in die ekonomies aktiewe bevolking.
Die getal wit vroue in topbestuursposisies het van 2000 tot 2006 tot 14,7% van die totaal gegroei, wat volgens mnr. Jimmy Manyi, voorsitter van die kommissie, heeltemal buite verhouding is tot die 5,5% wit vroue waaruit die ekonomies aktiewe bevolking bestaan,
Mnr. Membathisi Mdladlana, minister van arbeid, het egter gesê ondanks druk van onder meer vrouebelange in die ANC, glo hy dat wit vroue steeds deel van die bevoordeelde groepe ingevolge die Wet op Diensbillikheid moet wees.
Manyi was egter skerper in sy kommentaar: “Daar is nog ernstige rassisme in die werkplek. Daar is nog te veel wit mense wat dink hul gene is beter as swartes s’n. ’n Wit persoon met st. 8 dink ’n swarte met ’n doktorsgraad is minderwaardig.” Manyi het gesê die hekwagters by maatskappye is steeds wit mans, wat eerder wit vroue aanstel as enigiemand anders.
Nadat ses JSE-genoteerde maatskappye – Comair, Prism Holdings, Omnia, Verimark, Kumba Resources en Medi-Clinic – verlede jaar uitgesonder is vir kritiek deur die kommissie se diensbillikheidsverslag op hul vordering met regstellende aksie, het dr. Vanguard Skosana, direkteur-generaal van arbeid, met ’n indringende hersieningsproses van dié maatskappye se regstellende-aksieplanne begin. Daar is ook skerper gefokus op die 1 296 maatskappye wat nie verlede jaar verslae oor hul vordering met regstellende aksie ingedien het nie.
Skosana het gesê die ses genoemde maatskappye het tot Augustus tyd om te voldoen aan die vereistes. Indien nie, kan hulle voor die arbeidshof gedaag word.
Mdladlana het die praktyk gekritiseer waar ’n swart uitvoerende hoof aangestel word, maar ’n wit bedryfsbestuurder of bedryfshoof word ook aangestel om “toesig” te hou oor die swart uitvoerende hoof, “so asof hy nie vertrou word nie”.
Uit die diensbillikheidsverslag blyk dit dat professioneel gekwalifiseerde swartes verlede jaar 36,5% van alle werkers in dié kategorie uitgemaak het, teenoor 51,2% in 2004, wat op agteruitgang in regstellende aksie dui. Wittes het egter toegeneem van 48,9% tot 62,2%. In senior bestuur verteenwoordig swartes nou 26,9% van die totaal in dié kategorie, teenoor 25,7% in 2004. Wittes se verteenwoordiging het met 3,5 persentasiepunte tot 70,9% gekrimp. In topbestuur was swartes se vordering ook traag, met ’n styging van net 1,1 persentasiepunt tot 22,2%. Wittes in topbestuur het met 4 persentasiepunte gekrimp tot 74,9%.
Dr. Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van die vakbond Solidariteit, het Manyi se fokus op topbestuur gekritiseer.
Net 0,5% van die arbeidsmag is in topbestuur en bemagtiging fokus net op ’n klein elite, in plaas daarvan dat werklose, ongeskoolde, armes daarby baat vind.
Hermann het die wetenskaplikheid van die diensbillikheidsverslag ook bevraagteken, omdat maatskappye wat verslae indien van jaar tot jaar verskil. Verder weerspieël die statistieke in die verslag nie die arbeidsmark nie, volgens Hermann.
Ondernemings met minder as 50 werkers hoef nie diensbillikheidsverslae in te dien nie, terwyl meer as 70% van werkende Suid-Afrikaners hul in dié maatskappye bevind.
Dit is dus sinloos om statistieke oor ’n klein onderdeel van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark voor te hou as verteenwoordigend van die algehele arbeidsmark, sê hy.
 
|