|
Lig flikker in vaardigheidstekort-tonnel- Sake Beeld
Charles Naudé
Dit lyk of Suid-Afrika se tekort aan vaardighede ʼn groter uitdaging bied as ooit tevore. Tog het die land waarskynlik nou `ʼn beter kans as voorheen om vordering te maak met oplossings. Die jongste droewige nuus is die bevinding dat Suid-Afrika verlede jaar die verste teruggesak het op `ʼn lys van die wêreld se mededingendste lande - grootliks weens vaardigheidstekorte. Die lys word saamgestel deur die Switserse sakeskool IMD en kom voor in sy jaarboek van internasionale mededingendheid. Volgens die lys, wat verlede week gepubliseer is, het Suid-Afrika 12 plekke geval - van 38ste uit 55 lande in 2005 tot 50ste in 2006. Die jaarboek beoordeel die lande in 323 afdelings en onderafdelings om te bepaal in watter mate elke land omstandighede skep en onderhou wat die groei van ondernemings bevorder. Drie van die grootste knelpunte in Suid-Afrika in 2006 was vaardigheidstekorte, regulatoriese rompslomp en swak dienslewering, het die Switsers bevind. Die ergste van die drie was egter vaardigheidstekorte. In verskeie onderafdelings wat verskillende aspekte van die vaardigheidstekorte meet, was Suid-Afrika heel laaste of byna heel laaste van die 55 lande. Daaronder is werkloosheid, beskikbare ingenieurs, menslike ontwlkkeling, vaardige werkers, breinkwyn van vaardiges, finansiële kundigheid. Die vaardigheidstekorte dwing die boubedryf tot kits-indiensopleiding net om te kan bybly met die werk. Suid-Afrika het nog altyd gebrekkige vaardighede gehad, en dit is onwaarskynlik dat die aanbod van vaardighede binne ʼn jaar soveel verswak het. Dit is eerder die vraag daarna wat groter en opvallender geword het as gevolg van die land se versnelde ekonomiese groei. In ʼn jaar van wêreldwye ekonomiese voorspoed het Suid- Afrika dus agter geraak weens sy kritieke tekort aan vaardighede. Geen maklike of vinnige oplossing bestaan vir die uitdaging nie. Uit verskeie oorde kom egter die goeie nuus dat kort-, medium en langtermyn-oplossings met groter erns as tevore gesoek word, met wisselende sukses. Een nie-ideale uitweg wat uit nood gevolg word, is kits-indiensopleiding - veral met die bloeiende boubedryf, waar al gesê word gister se dagha-menger is vandag se messelaar. Ander kort- tot mediumtermyn-oplossings is om vaardige mense elders te werf. Pogings is byvoorbeeld begin om Suid-Afrikaners met vaardighede uit die buiteland terug te lok, onder meer onder leiding van die bankgroep FirstRand en die vakbond-organisasie Solidariteit. Die sukses daarvan lyk nog taamlik beperk. ʼn Woordvoerder van Murray & Roberts het aan die Financial Mail gesê baie van die mense se verwagtings is onrealisties hoog, en dit kan meer sin hê om in lande soos Indië, Duitsland en die Filippyne inheemse mense met skaars vaardighede te werf. Ook op daardie gebied gebeur nog min, veral in vergelyking met die sukses waarmee die Arabiese lande, asook Indië, China en Australië, wêreldwyd vaardighede werf. Waarmee blykbaar wel noemenswaardige vordering gemaak word, is die werwing - gedryf deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika - van afgetredenes om uit te help en onervare mense op te lei by veral munisipaliteite wat in die moeilikheid beland het weens vaardigheidstekorte. Op medium tot lang termyn lyk dit of die regering aan die gang kom met opleiding. Op die vlak van universiteitsopleiding word byvoorbeeld R5,95 miljard bestee aan die verbetering van die infrastruktuur van die instellings. Dit is die eerste sodanige investering in infrastruktuur in 30 jaar. Die besteding moet onder meer die opleiding van natuurwetenskaplikes, Ingenieurs en tegnoloë bevorder, berig die Mail & Guardian. Terwyl tans sowat 700 ingenieurs per jaar opgelei word, het Suid-Afrika oor die volgende drie jaar na skatting 11 000 bykomende ingenieurs nodig. Die opleiding van ambagslui het afgeneem van 33 000 in 1975 tot 7 500 in 1990 en na skatting minder as 1500 in 1995. Die regering meen tot 5 000 per jaar word tans opgelei. Die behoefte is egter aan meer as 12 000 per jaar. Terwyl die omstrede seta-stelsel glad nie in die behoeftes voorsien nie, het groot maatskappye soos Sasol, Mittal en Aveng tog begin om ambagslui op te lei. Waarskynlik die grootste langtermyn-uitdaging vir die minister van onderwys, mev. Naledi Pandor, is die gebrekkige grondslag wat op skool gele word, en meer bepaald vir die onderwys van kinders uit die voorheen benadeelde gemeenskappe. Ondanks imposante konsepte soos "uitkomsgerigte" onderwys, wys Suid-Afrika se swak vertonings in internasionale wiskunde- en wetenskap-toetse dat die groot behoefte steeds goeie basiese onderrig is, veral in taal- en syfervaardighede. Min het ook gekom van die goeie plan om leerlinge wat akademies minder sterk is, op hoërskool die keuse te bied van onderrig in praktiese, tegniese vaardighede, wat hulle meer gereed kan maak vir die arbeidsmark. Vir goeie onderrig is beter opgeleide onderwysers nodig. Om hulle te werf en te behou moet hulle beter betaal word, veral vir die sleutelvakke - heelwat beter as die minder as RIO 000 wat ʼn Engels-onderwyser met 17 jaar ondervinding volgens ʼn berig van verlede week verdien. As Pandor sukses kan behaal met die onderwys-uitdaging, sal alle Suid-Afrikaners op die duur ʼn beter kans hê om met die res van die wêreld mee te ding - van die laerskoolbank tot uiteindelik in die werkplek.  
|