Solidariteit - http://www.solidaritysa.co.za/Tuis - Nuus

Dagbreek-Trust nou ook ’n vennoot van ROF - 2- 2007 - 12: 0

Dagbreek-Trust (DBT), een van die oudste en mees gevestigde Afrikaanse instellings, het ’n uitnodiging aanvaar om die vierde vennoot van die Rapport Onderwysfonds (ROF) te word.

Terselfdertyd het die DBT aangekondig dat hy R1,5 miljoen oor ’n tydperk van drie jaar in die ROF belê.

Die vier vennote in die ROF is nou Rapport, die vakbond Solidariteit, die Afrikanerbond en die Dagbreek-Trust. Die vier vennote het die afgelope week ’n ooreenkoms onderteken.

Dr. Koos Buitendag, voorsitter van DBT, het gesê die trust het besluit om by die ROF betrokke te raak omdat sy missie Afrikaans is. “Die toekoms van Afrikaans sal bepaal word deur dit wat die huidige geslag Afrikaanssprekendes bereid is om te doen.

Ons wil met ons toetrede ’n bydrae lewer om moedertaalonderrig in Afrikaans te verseker.”

Buitendag het gesê “die ROF is ’n kosbare kleinood wat vertroetel moet word.

Die Afrikaanse gemeenskap moet daarna streef om die fonds sterker te maak.”

As een van die destydse stigters van Rapport is dit vir DBT goed om weer by Rapport betrokke te wees, het hy gesê.

Tim du Plessis, redakteur van Rapport, het die DBT se toetrede namens die ander vennote verwelkom. “Dis ’n heuglike dag vir Afrikaans.”

Meer as 450 Afrikaanse studente uit alle groepe studeer tans met die hulp van die ROF oral in Suid-Afrika. Danksy DBT sal ons nou nog meer kan help, het Du Plessis gesê.