Solidariteit stig Welkom-noodfonds om verligting vir Pamodzi-werknemers te bring - 3- 2009 - 15: 1
Solidariteit
Die vakbond Solidariteit se maatskaplike organisasie Helpende Hand het die afgelope week amptelik ʼn noodfonds gestig vir die ondersteuning van die meer as 4 000 Pamodzi-werknemers in die Vrystaat wat steeds nog net 60% van hul salarisse vir Februarie ontvang het. Die fonds, wat as die Welkom-noodfonds bekendstaan, is daarop gemik om die mees basiese lewensmiddele vir werknemers van dié myn te voorsien.
Solidariteit het besluit om die Welkom-noodfonds die afgelope Vrydag te loods nadat Pamodzi nie hul ooreenkoms wat Donderdag met Solidariteit-bestuur gesluit is, nagekom het nie. Ingevolge dié ooreenkoms sou die myn Vrydagoggend voor 12:00 ʼn verdere 25% van werknemers se Februarie-salarisse oorbetaal het.
Daar is egter Vrydag slegs ʼn verdere 10% aan werknemers oorbetaal. “ʼn Geweldige maatskaplike krisis is besig om in die Welkom-omgewing te ontvou, waar die meer as 4 000 werknemers reeds vir meer as twee weke op hul volle salarisse wag,” verduidelik Dirk Hermann, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit.
Probleme by dié myngroep steek reeds sedert Oktober verlede jaar kop uit nadat werknemers in dié maand sowel as Desember hul salarisse laat ontvang het. Skaars ʼn maand later moes werknemers hoor dat hulle weer eens nie hul salarisse betyds gaan ontvang nie en Januarie se salarisse is in twee paaiemente aan werknemers betaal. Februarie se laat-betaling was egter die laaste strooi vir werknemers wat teen die einde van Februarie tevrede moes wees met slegs 20% van hul salarisse. Dit het tot ʼn staking gelei wat reeds tien dae lank by die myn voortwoed. ʼn Verdere 40% van hul totale salarisse is vandeesweek inbetaal, maar is in meeste gevalle dadelik deur laat-aftrekorders opgeraap.
“Dit plaas broodwinners in ʼn ongelooflike moeilike posisie en het reeds verreikende sosio-maatskaplike gevolge. Weens laat-betaling is werknemers se mediese fondse vir ʼn tydperk gevries terwyl talle reeds aansienlike voedseltekorte ervaar. Volgens ons berekeninge onderhou elke mynwerker agt tot elf afhanklikes, wat uiteindelik beteken dat hier na raming tussen 32 000 en 44 000 individue is wat op die vooraand van die winter sonder die nodigste kos en lewensmiddele is,” sê Hermann.
Skenkings tot die Solidariteit Helpende Hand Welkom-noodfonds sal geweldig waardeer word. Nie-bederfbare voedsel, babaprodukte, skoonmaakmiddels en toiletbenodighede word veral benodig. Om ʼn donasie te maak, kontak Solidariteit Helpende Hand tydens kantoorure by 0861 25 24 23.
Jaco Kleynhans
Woordvoerder: Solidariteit