Solidariteit - http://www.solidaritysa.co.za/Tuis - Nuus

'ANC het vir ons gelieg'- Rapport - 7- 2007 - 18: 0
Z.B. DU TOIT

Die ANC-regering verbreek die onderhandelde skikking van 1994 met die wyse waarop hy regstellende aksie tans toepas, sê mnr. Pik Botha, oud-minister van buitelandse sake wat ook twee jaar in oud-pres. Nelson Mandela se kabinet gedien het.

As die Nasionale Party-regering destyds geweet het die ANC wil regstellende aksie toepas soos tans, sou daar nooit ’n skikking gewees het nie, sê Botha, wat in die twee laaste verkiesings vir die ANC gestem het.

Gister wou hy nie sê of hy weer vir die regerende party gaan stem nie.

Botha het Vrydag dié politieke bom gelos by ’n geleentheid in Centurion waar dr. Dirk Hermann, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit, se boek oor regstellende aksie bespreek is.

In ’n verklaring gister aan Rapport sê oud-pres. F W de Klerk die huidige toepassing van regstellende aksie is strydig met dit waarop destyds in die grondwetlike onderhandelings ooreengekom is.

Dit was nooit die bedoeling dat mense sonder kwalifikasies op grond van ras poste moet kry en dit was nie bestem as ’n permamente instelling nie, het De Klerk gesê.

De Klerk en Botha se standpunte kan heftige reaksie in ANC-geledere ontlok. Mnr. Membathisi Mdladlana, minister van arbeid, het vroeër vanjaar gesê regstellende aksie sal nie “in duisend jaar” afgeskaf word nie.

Botha het Vrydag in sy voorlegging gesê in 2000 kon Afrikaners nog gemaklik voel met die ANC se beleid.

Maar deesdae is die ANC “op die regte baan in die verkeerde rigting”.

Botha sê dit is “eintlik verspot” om te dink die NP-onderhandelaars sou toestem tot ’n bedeling waarin kinders wat in die 1980’s gebore is, nie op ’n gelyke grondslag met alle ander om betrekkings sou kon meeding nie.

De Klerk sê wye bespreking is tydens die onderhandelinge gevoer oor die behoefte aan die een of ander vorm van regstellende aksie om diegene te help wat in die verlede deur onregverdige diskriminasie benadeel is. Daar was ook aanvaarding dat die openbare sektor en openbare instellings meer verteenwoordigend moet wees van die bevolking as geheel.

“Nooit was daar egter enige vraag daaroor dat mense sonder voldoende kwalifikasies bloot op grond van ras aangestel moet word of dat die beginsel van demografiese verteenwoordiging in die private sektor toegepas moet word nie.

Volgens Botha word die ANC, soos die NP van vroeër, deur “ ’n fatale obsessie” gedryf: die NP deur apartheid, die ANC deur “kwotabesetenheid”.

“Ons het nooit ingestem tot diskriminasie in enige vorm nie. Diskriminasie teen jong wit mense wat niks met apartheid te doen gehad het nie, was beslis nie deel van die verstandhouding nie. Ook nie diskriminasie teen wit, bruin en Indiër oor die algemeen nie.

Botha het gesê die NP-onderhandelaars het tydens die onderhandelingsproses stappe in gedagte gehad om die agterstand en benadeling wat deur apartheid veroorsaak is te herstel, onder meer omdat “die onreg van apartheid diep berou is”.

“Maar ons het nie ingestem dat daar vir die ongeregtigheid van die verlede vergoed word deur die skepping van onreg in die hede nie. Regstelling kan ingevolge die Grondwet positief bewerkstellig word deur die welsyn van die benadeeldes op elke lewensterrein te bevorder: onderwys, gesondheidsdienste, behuising en werkskepping.

Die huidige toepassing van regstellende aksie is in stryd met oud-pres. Mandela se siening dat swart en wit mekaar nodig het. “Dit kom neer op ’n verwerping van Nelson Mandela se basiese filosofie.”

Botha sê hy wil dié standpunte aan die ANC oordra.