Arbeidstoneel kan ontvlam- Sake Beeld - 5- 2007 - 15: 1
Jan de Lange
Minstens sewe stakings dreig landwyd in vier verskillende sektore weens ’n stortvloed van loon- en verwante eise wat lyk asof dit die arbeidstoneel oor die volgende twee maande gaan laat ontvlam.
Buiten die dreigende staking deur die land se een miljoen staatsamptenare, dreig stakings in die staal- en ingenieursbedryf, wat 230 000 werkers verteenwoordig, en by Eskom, wat boonop dié winter elektrisiteitsprobleme verwag.
Kundiges verwag dat die loononderhandelinge in die volgende paar maande tot die ergste arbeidsonrus in baie jare gaan lei.
Dit word toegeskryf aan ’n kombinasie van hoër kostestygings vir huishoudings met ’n lae inkomste as vir ander gesinne, die toenemende militantheid van vakbonde omdat hul magsbasisse onder druk is, en ’n strewe by werkers om te deel in die opwaartse sosiale mobiliteit en welvaart wat oral in die ekonomie merkbaar is.
Arbeidsonrus het reeds begin kop uitsteek in die mynbedryf, met stakings by verskeie myne, waaronder twee platinummyne, Kroondal en Marikana, wat as vennootskappe tussen Aquarius en Anglo Platinum bedryf word.
Die onbeskermde staking deur sowat 4 000 werkers is gistermiddag laat geskik.
Besonderhede van die skikking was teen druktyd nog nie bekend nie.
In al die ander loondispute is die partye ver uitmekaar.
Loononderhandelinge in die staal- en ingenieursbedryf sou verlede week begin het, maar werkgewers het uit die staanspoor geëis dat geen verandering aan diensvoorwaardes onderhandel word nie en dat net op loonverhogings gefokus word.
Die vakbonde het egter omvattende eise oor diensvoorwaardes, onder meer oor die instelling van werknemer-aandeleskemas en die uitbetaal van pensioenfonds-surplusse.
Hulle eis ook loonverhogings van 11%.
Die vakbonde, Numsa, Solidariteit, Uasa, Ccepwawu en die Metaal- en Elektriese Werkersunie het dadelik uit die onderhandelinge gestap toe Seifsa, wat die land se sowat 2 000 werkgewers in die staal- en ingenieursbedryf verteenwoordig, hul voorstel ter tafel lê.
“Ons sien hulle Woensdag (môre) weer, maar as hulle nie dié eis heroorweeg nie, sal ons dadelik met ’n dispuutprosedure begin,” het mnr. Dirk Hermann, woordvoerder van Solidariteit, gister gesê.
Eskom het verlede week loonverhogings van 4% aan vakbonde aangebied, wat ook dadelik verwerp is deur die National Union of Mineworkers (NUM) en Solidariteit, die twee grootste vakbonde in die elektrisiteitsreus.
In die mynbedryf het loononderhandelinge die afgelope twee weke begin met Implats, Kumba Resources en DRDGold.
Simmers & Jack het die naweek ingestem tot loonverhogings van 20% vir sy laags besoldigde werkers by Buffelsfontein in Noordwes ná ’n staking van drie dae – ’n aanduiding van die verwagtinge by vakbonde.
Prof. Sakhela Buhlungu van die Sosiologie van Werk-Instituut aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê werkers voel beslis die knyp van stygende inflasie erger as hoër inkomstegroepe.
“Sulke moeilike onderhandelingsjare is soms die gevolg van ’n sameloop van omstandighede, maar dié keer lyk dit of prysverhogings van brandstof wat deurwerk na voedselpryse en ander uitgawes, asook skoolgeld, werkers erg tref.
“Werkers vergelyk hulself beslis met die res van die bevolking en sê vir hulself dit gaan met almal goed, dit kan met ons ook gebeur,” sê Buhlungu.