Solidariteit se geskiedenis

Solidariteit het in 1902 as die Transvaal Miners’ Association in die Witwatersrandse myne ontstaan. Die TMA is amptelik op 22 Junie 1902 in Johannesburg gestig. AJ Strong was die eerste president en W Mather die eerste hoofsekretaris. Edward Perrow en SW Fursey het in 1903 vir Strong en Mather opgevolg.

Die vakbond het hoofsaaklik uit werkers van Britse oorsprong bestaan, maar het ook Australiërs, Italianers, Duitsers, Grieke, Engelssprekende Suid-Afrikaners en enkele halfgeskoolde Afrikaners ingesluit. Eksklusiewe lidmaatskap was beperk tot blanke ondergrondse mynwerkers in besit van ʼn (dinamiet)skietsertifikaat, wat deur die Inspekteur van Myne uitgereik is. Hierdie sertifikaat is beskou as gelykstaande aan ʼn ambagtoets.

Teen 1903 word een van die belangrikste figure in die vroeë wit arbeidersbeweging  in Suid-Afrika by die TMA aangestel. Mary Fitzgerald, wat as tikster en stenograaf aangestel is, was ʼn gebore rebel en het ʼn magtige invloed in arbeider- en vakbondgeledere geword. Later was die aanstelling van ampsdraers en organiseerders van die TMA grootliks aan haar goedkeuring onderworpe. Sy het ʼn prominente aandeel aan die mynstakings van 1907 en 1913 en die algemene staking van 1914 gehad, asook aan die Johannesburgse tremstaking van 1911.

Die TMA se lede het in swak omstandighede gewerk. Talle mynongelukke het plaasgevind; myntering – te wyte aan die hoogste kwartsiet- en silikaneerslae ter wêreld – was alomteenwoordig en die TMA het finansieel swaargekry. Feitlik ʼn hele geslag pioniermynwerkers van oorsee het aan Suid-Afrikaanse myntering gesterf.

Al was die TMA se ledetal beskeie, het hy hom teen 1904 op ʼn meer stabiele en lewensvatbare grondslag gevestig.

Tom Matthews was nóg ʼn prominente leiersfiguur in die vroeë Suid-Afrikaanse arbeidsbeweging. Hy was in 1908 die hoofsekretaris van die TMA.

Die Transvaal Miners’ Association is in 1913 herdoop tot die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU), en is toe deur die Kamer van Mynwese as vakbond erken.

Twee gebeure wat die vakbond se verloop beïnvloed het, was die toename in Afrikanerlede en die militante stakings van 1907, 1913, 1914 en 1922. Tydens die staking van 1922 was Rasmus Pieter Erasmus die voorsitter van die Fordsburg-tak van die MWU en ʼn leidende figuur in die staking. Hy het die geveg vir ʼn blanke Suid-Afrika as ʼn nasionale kwessie beskou. In 1948 is Erasmus as vise-president en vanaf 1951 tot 1954 tot president van die MWU verkies.

Die 1922-opstand het ʼn gemengde nadraai vir die wit werkersklas as geheel en wit mynwerkers gehad. Wit mynwerkers se loonskale is met tussen 25% en 50% verminder en baie van hulle is deur swart werkers vervang. Uiteindelik is sowat 2 000 wit mynwerkers permanent deur swartes vervang. Die staking se einde het ook vakbonde se bedingingsmag in die myne vernietig, en baie mense in nood gedompel. Selfs die president van die MWU, WS Lewis, is in Januarie 1923 uit sy posisie as lid van die stadsraad van Benoni gedwing.

Die departement van arbeid het dit selfs oorweeg om die vakbond te sluit as die administrasie van die vakbond nie verbeter het nie.

Die stryd om beheer van die MWU en sy uitvoerende bestuur het teen die agtergrond van politieke en ekonomiese verwikkelinge van 1929 tot 1948 afgespeel. Die verhoogde rol van die staat het die militante wit werker geneutraliseer en die MWU het ʼn pro-regering vakbond geword.

In die 1930’s en 1940’s het die MWU deel uitgemaak van die intense politieke leierskapstryd tussen die Nasionale Party en die Verenigde Party. Die digte mynbevolking op die Witwatersrand het in ʼn slagveld in die algemene verkiesings ontaard. Die Tweede Wêreldoorlog, wat in September 1939 uitgebreek het, het verdere politieke verdeeldheid onder die Afrikaners gebring. Die meeste Afrikaners het teen die VP begin draai. Die VP het die wit werkersklas in die oorlogsjare vervreem.

Afrikanersteun vir vakbonde het toegeneem en wit werkers, wat van die oorlogsfront teruggekeer het, moes vind dat baie werkgeleenthede deur swartes gevul is. Die MWU het later ʼn politieke speelbal van die gesuiwerde Nasionale Party geword. Die organisering van die Afrikanermynwerker het ʼn belangrike bydrae gelewer tot die NP se verkiesingsukses in 1948. Gedurende die 1930’s en 1940’s was die politieke ondersteuning van die Afrikanermynwerkers tussen minstens drie politieke partye verdeel: die GNP, die VP en die Suid-Afrikaanse Arbeidersparty.

Teen 1934 was die MWU se ledetal ʼn skamele 3 500. In 1935 is Charles Harris as hoofsekretaris van die MWU gekies, maar daar was ongerymdhede tydens sy verkiesing. Talle van die MWU se lede en mynwerkers was ontevrede met Harris se bestuur van die vakbond. Harris was ʼn outoritêre bestuurder. Diegene wat krities teenoor hom was, het hulle lidmaatskap van die MWU verloor. Harris het ʼn diktator in die vakbond geword. Die MWU het toe beswaarlik enigiets gedoen om werksomstandighede te verbeter en werkerbelange te bevorder.

Die Afrikanerbond van Mynwerkers is in 1936 gestig. Die MWU was krities oor die verdeeldheid wat die stigting van die ABM in mynwerkersgeledere teweeggebring het, aangesien dit die strewe na ʼn sterk eenheidsfront in die vakbondwese in die wiele gery het. Om aan te toon dat die MWU tog deur die jare iets blywend vir sy lede tot stand gebring het en dat die ABM derhalwe geen bestaanreg gehad het nie, het die bestuur verwys na sekere werkvoordele wat hulle reeds vir die mynwerkers beding het. Voorbeelde hiervan is die feit dat die werkdag van twaalf na agt ure verkort is, myntering-uitbetalings van £96 tot £500 per geval verhoog is en die destydse aanvangsloon van 10 sjielings per week mettertyd tot ʼn gemiddelde loon van £64 per maand verhoog is. Die MWU het die ABM as ʼn bedreiging gesien. Om die potensiële gevaar te neutraliseer wat ʼn mededingende vakbond vir die voortbestaan van die MWU geskep het, het die algemene raad tydens sy jaarvergadering in Februarie 1937 besluit om alle lede wat verbintenisse met rassistiese vakbonde gehad het, te skors. Dit het ʼn nuwe era in die stryd tussen die MWU en die ABM ingelui, naamlik die kwessie van geslote geledere. ʼn Vakbond se primêre doel is per slot van rekening om ʼn gesamentlike bedingingsmag te skep om beter diensvoorwaardes vir werkers te bewerkstellig.

Die Goudprodusentekomitee het net die MWU vir onderhandelingsdoeleindes erken. Die departement van arbeid het geweier om die ABM as erkende vakbond te registreer. Op 1 Junie 1937 is die geslote geledere-beginsel deur die beginsel van vrye toegang vervang. Mynwerkers het die geleentheid gekry om by een van die erkende vakbonde aan te sluit. Die praktiese implikasie hiervan vir die ondergrondse wit mynwerker was dat hy voortaan verplig was om by die MWU - as enigste wettig erkende vakbond - aan te sluit. Die ABM het egter nie tou opgegooi nie en het nie sy werksaamhede gestaak nie.

Die stryd om die beheer van die MWU het ʼn dramatiese wending geneem toe Charles Harris op Saterdag 15 Junie 1939 regoor die MWU-kantoor in die Trades Hall in Kerkstraat, Johannesburg, deur Jacob Moller Hugo in sy motor doodgeskiet is.

Een van die faktore wat aanleiding gegee het tot ʼn grondige ondersoek na die sake van die MWU, was die verkiesing van ʼn nuwe hoofsekretaris in die plek van Charles Harris. Soos met al die vorige MWU-verkiesings, is dié een gekenmerk deur ʼn grootskaalse werwingspoging en wedersydse aftakeling deur die opponerende groepe. FH Kukkuk is in April 1940 as die nuwe hoofsekretaris verkies.

ʼn Kommissie van Ondersoek het in 1941 bevind dat daar finansiële wanbestuur in die MWU was. Daar is bevind dat Kukkuk en die rekenmeester in die geheim saamgewerk het. Op die algemene raadsvergadering van April 1941 is Kukkuk summier uit die amp van hoofsekretaris ontslaan en Bertie Brodrick is in sy plek aangestel. Brodrick het maatreëls ingestel om alle ongerymdhede en wanbestuur uit die weg te ruim en in die toekoms te voorkom.

Op politieke gebied het die Herenigde Nasionale Party die algemene verkiesing van 1948 gewen. Die eerste twee dekades van die Nasionale Party-regering is gekenmerk deur ʼn periode van snelle ekonomiese groei. In 1950 het mynindiensneming 18% van alle werkgeleenthede in die sogenaamde “moderne sektor” verteenwoordig, terwyl die goudmyne 74% van alle mynwerkers in diens gehad het. In 1956 is die Nywerheidsversoeningswet, wat die wit werker ten opsigte van werkreservering bevoordeel het, gewysig.

Daan Ellis is in 1948 as die nuwe hoofsekretaris van die MWU aangestel. Daar is dadelik met ʼn regruk-aksie van die MWU se administrasie begin. Die Mynwerker het ook ʼn weeklikse nuusblad geword.

Ekonomiese en politieke faktore het teen die einde van die sestiger- en vroeë sewentigerjare die NP-regering onder druk begin plaas. Die sewentigerjare is gekenmerk deur ʼn geweldadige en militante stryd en opposisie teen die regering van die kant van die swart arbeidsmag. Stakings onder swart werkers was algemeen.

Die regering het in Junie 1977 die Kommissie van Ondersoek na Arbeidswetgewing (ook bekend as die Wiehahn-kommissie) aangestel. Dit moes ondersoek instel na arbeidswetgewing en die algehele stelsel van arbeidsverhoudinge in Suid-Afrika en aanbevelings in dié verband maak, sodat daar gepoog kon word om arbeidsvrede in die toekoms te verseker.

Die MWU het in ʼn memorandum aan die Wiehahn-kommissie van Ondersoek verklaar dat dit die beleid van afsonderlike ontwikkeling met aparte werksgebiede vir wit en swart werkers voorgestaan het. Die status quo van die Wet op Myne en Bedrywe ten opsigte van werkreservering moes onveranderd gelaat word aangesien werkreservering die enigste beskerming vir die minderheidsgroep teen swart verdrukking was. Hierdie standpunte van die MWU was die begin van die vakbond se hewige reaksie op die bevindinge en aanbevelings van die Wiehahn-kommissie.

Aanbevelings wat uitgestaan het, was die registrasie van swart vakbonde en die afskaffing van statutêre werkreservering. Omdat die MWU vir so lank die staat se beskerming geniet het, was hy heeltemal onvoorbereid op sosio-ekonomiese hervorming en swart bevoordeling, wat hy as ʼn regstreekse bedreiging vir sy posisie beskou het.

Gedurende 1979 tot 1981 het arbeidshervorming belangrike momentum begin kry. Politieke en ekonomiese faktore het die apartheidstaat onder geweldige druk geplaas. Die NP-regering was genoop om ingrypende wetgewende onderhandelinge en hervorming aan te pak.

Die MWU kon nie van hierdie ingrypende verandering in die Suid-Afrikaanse politieke, maatskaplike en ekonomiese landskap ontsnap nie. Die vakbond was gedwing om sy visie, strategieë en strukture te herbedink, herformuleer en herontwerp om steeds ʼn relevante arbeidsorganisasie vir sy lede te kon wees.

Peet Ungerer het op 1 Oktober 1987 die nuwe hoofsekretaris van die MWU geword. Ungerer het hom daarvoor beywer om met ander vakbonde saam te werk, ten einde meer doeltreffende beskerming vir sy lede te verseker. Ungerer het ook geglo dat die MWU nie by partypolitiek betrokke moes raak nie, omdat hy geglo het dat die politiek en die vakbondwese nie versoenbaar was nie.

Die MWU het in die verloop van 1990 sy strategie in werking gestel om die ideaal van een groot blanke vakbond (ʼn “super blanke vakbond”, soos dit genoem is) te bereik.

Teen 1992 was die MWU se ledetal 44 000, wat hom die grootste vakbond vir wit werkers in die land gemaak het. ʼn Nuwe naam is ook vir die vakbond beoog, aangesien die MWU lank nie meer tot die mynbedryf beperk was nie. Daar is egter besluit om nie op daardie stadium die naam te verander nie.

Kwessies soos regstellende aksie, kulturele aangeleenthede en die afskaffing van Afrikaans as gebruikstaal het die MWU gedwing om hom as drukgroep vir wit werkerbelange te laat geld. Die vakbond het hom daarvoor beywer om die taal en kultuur van sy lede in die werkplek en openbare lewe te behou en te bevorder. Met die totstandkoming van die Waarheid- en Versoeningskommissie na 1994 het die MWU geweier om te getuig. Hy het gemeen dat hy nie skuldig aan die aftakeling van die ekonomie deur onverantwoordelike stakingsoptrede of geweld was nie.

Vir die eerste keer in die vakbond se geskiedenis is daar in 1997 ʼn president aangestel wat nie uit die mynbedryf kom nie. Leon Viviers, ʼn lugversorgingtegnikus en gekwalifiseerde elektrisiën, is in die plek van Cor de Jager as president verkies.

 

Op 11 Julie 1997 is Flip Buys as die Hoofsekretaris van die MWU aangestel. Flip Buys se agtergrond, skoling en ondervinding het bygedra tot die nuwe moderne bestuur van die vakbond. Buys het nie sy pos as ʼn werk beskou nie, maar as ʼn roeping. Buys het aangetoon dat die MWU, benewens politieke verandering, hom ook ten opsigte van die arbeidsbestel in ʼn krisis bevind het waar ʼn drastiese en grondige beleidswysiging noodsaaklik was as die vakbond wou oorleef. Die nuwe arbeidsbedeling is ook gekenmerk deur nuwe wetgewing soos die Wet op Arbeidsverhoudinge, die Vaardigheidswet, die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

Buys het besluit dat die MWU hom nie met partypolitiek sou besig hou nie, maar dit het nie beteken dat die vakbond afsydig sou staan teenoor die “breë volksbelange” van sy lede nie.

Die MWU moes van ʼn vakbond na ʼn arbeidsbeweging omskep word. Deel hiervan was om van moderner metodes in die vakbond te begin gebruik maak. Onder andere het die vakbond ʼn tweetalige webwerf ontwikkel, ʼn weeklikse elektroniese nuusbrief, Soldeer, aan sy lede gestuur en ʼn omvattende finansiële dienstegroep ontwikkel.

In 2001 is ʼn mediese diens- en makelaarsbesigheid onder die naam Solmark (tans bekend as Solidariteit Gesondheidsorg) op die been gebring om bekostigbare en gehalte gesondheidsorg aan MWU-lede en hulle gesinne te verskaf.

In Mei 1999 is Netmark, ʼn arbeidsmakelary en personeelagentskap, gestig, wat deel van MWU se werkskeppingsnetwerk uitgemaak het. Teen 2001 het Netmark reeds werk aan 1 600 persone in maatskappye verskaf. Express Personnel vervul nou hierdie rol.

In 2006 is ʼn opleidingskollege, Sol-Tech, gestig as die vakbond se bydrae was tot die voorkoming van vaardigheidstekorte in Suid-Afrika. Ten spyte van ʼn reputasie van reaksionêre konserwatisme het die MWU sedert die laat negentigerjare daarin geslaag om stelselmatig aan te pas by veranderende politieke en ekonomiese omstandighede en eise van die tyd.

Op 27 Februarie 2001 het vyf vakbonde saamgesmelt om die groter MWU-Solidariteit te stig. Die vakbonde was die MWU, die Yster-, Staal en Verwante Nywerhede-Unie (SAWU), Denelunie, die Karweiersunie en die Bosbou- en Plantasiebestuursunie.

Daar is in die begin van 2001 besluit om die MWU-Solidariteit se hoofkantoor na dertig jaar in Braamfontein te verskuif na Centurion.

Om heeltemal weg te breek van die assosiasie met ʼn mynvakbond, soos die naam nog geïmpliseer het, is daar in September 2002 besluit om die vakbond na Solidariteit te herdoop.

Teen 2002 was Solidariteit inderdaad meer as net in naam ʼn algeheel herontwerpte, dinamiese en getransformeerde arbeidsbeweging met ʼn federale karakter. Solidariteit kon toe reeds op ʼn geraamde jaarlikse inkomste van R50 miljoen staatmaak. Die vakbond was ten volle toegerus vir die eise en uitdagings waarvoor georganiseerde arbeid in die nuwe millennium te staan sou kom. In 2002, eenhonderd jaar na die ontstaan van die TMA, kon Solidariteit met reg daarop aanspraak maak dat hy nie net die grootste en oudste onafhanklike vakbond in Suid-Afrika was nie, maar ook die grootste enkele vakbond vir geskoolde en hoogsgeskoolde werknemers.

Die likwidasie van die DRD-goudmyn op Stilfontein in 2005 het 6 513 werkers sonder heenkome gelaat. Solidariteit het deur middel van sy Helpende Hand Fonds ʼn hulp-aksie op die been gebring, met ʼn skenking van R100 000 aan sowat 3 000 gesinne en individuele mynwerkers van alle rasse.

Teen die einde van 2005 het Solidariteit sy eie hoofkantoor in DF Malanrylaan in Centurion gekoop. Solidariteit is sedert 2006 lid van 'n vakbondfederasie, die Confederation of South African Workers Unions (Consawu).

Die vakbond se ledetal groei steeds jaarliks en die vakbond het tans tussen 130 000 en 140 000 lede.

Bronne:

VISSER, WP. 2002. Van MWU tot Solidariteit – ʼn Politieke en ekonomiese geskiedenis van die Mynwerkersunie, 1902 tot 2002.

VISSER, WP. From MWU to Solidarity – A trade union reinventing itself. (South African Journal Labour Relations, Vol.30, No.2, 2006, pp.19-41.)

 


© 2005 - 2009. Solidariteit. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Wie is Ons] [Bestuur] [Voordele] [Sluit aan] [My info] [Kontak Ons] [Soek]

Vrywaring | Terme & Voorwaardes

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester

Login